ADVERTISEMENT:

 

Levubu grondeise kry weer momentum

 

News  Date: 23 April 2004

 

LEVUBU – Daar heers 'n versigtige optimisme onder boere wat vrywillige verkopers is in die Levubu grondeise saak, na 'n vergadering verlede week. Sommige is tevrede met die markverwante aanbiedinge wat hulle van die staat ontvang het.

Die aanbiedinge aan ongeveer 'n derde van die vrywillige verkopers was gelykstaande aan markverwante pryse en hulle gaan nou die afhandelingsproses binne. Die ander se aanbiedinge was onder markverwante pryse en hulle betree nou 'n proses van herwaardasie.

Op 'n vergadering op 15 April met eisers, huidige grondeienaars van Levubu 15- en Laatsgevondenverkopers en funksionarisse van die Limpopo Grondeise Kommissie, is 'n teikendatum van einde Junie in die vooruitsig gestel vir die afhandeling van die eerste aanbiedinge. Ander kernsake soos die naverkoopsooreenkoms is ook bespreek.

"Ons het al weer begin kunsmis gooi," het van die vooruitstrewende boere drie dae na die vergadering gesê. 'n Aanvanklike neerslagtigheid na afloop van die vergadering het plek gemaak vir 'n ywer vir die landbou en 'n ywer om die proses te maak werk.

Mnr. Cobie Cronjé van Laatsgevonden meen dat die teikendatum vir die afhandeling van die eerste aanbiedinge eerder later as Junie sal wees, omdat sekere van die eisergroepe hulself nog nie voldoende georganiseer het nie. Hy is een van die vrywillige verkopers wat 'n markverwante aanbod ontvang het. "Op die vergadering het ek spesifiek die vraag gevra wat sal gebeur as ons insette maak ten opsigte van die spesifieke oes en oordrag vind reg voor die oes plaas," het mnr. Cronjé gesê. Cronjé was tevrede met die reëlings in die verband om waarskynlik 'n okkupasiehuur te betaal in die geval waar oordrag en oes sou saamval. Verskeie transaksies word al aan die minister van Landbou voorgelê.

Wat die naverkoopsooreenkoms betref, het boere gevoel dat hulle na afloop van die vergadering meer duidelikheid oor die proses het. Op die vergadering is dit egter pertinent gestel dat 'n individuele vrywillige verkoper geen waarborg het dat hy sy grond kan terughuur nie. "Ons het planne in plek om deur 'n maatskappy van voormalige eienaars te werk, aangesien daar nie kontrakte vir elke individu sal wees nie, maar vir groter maatskappye," het mnr. Paul Smit (snr.) van Levubu 15 gesê.

Twee maatskappye van buite, onder andere die maatskappy wat Zebediela oorgeneem het, het ook getender vir bestuur van die grond. Mnr. Cobie Cronjé het gesê dat hulle nie moedeloos is nie, want met hulle spesialiskennis het hierdie sterk groep boere, wat gewillig is om met ontwikkeling en opleiding by te staan, 'n goeie saak.

Op die vergadering is gemeld dat eienaars wat verkoop, onvoorwaardelike oordrag kry en dat daar nie BTW deur die verkoper betaalbaar sal wees nie. Die huidige eienaar kan ook verkoop as 'n lopende saak (going concern).

Aan die nuwe eienaars is gesê dat hulle finansiële voordeel behoort te trek en dat hulle 'n proses van mentorskap en opleiding moet deurgaan. Die proses sal gemonitor word deur PAETA (Primary Agricultural Education Training Authorities) as toesighouers, ten spyte van die aanduiding van sommige eisergroepe dat hulle self kan boer. Die volhoubaarheid van samewerking in die naverkoopsooreenkoms is beklemtoon. Die eisergroepe sluit in die Ravele's, Masakona's, Manuvela's, Ratombo's en Tshakuma's.

Na die vergadering is kommer uitgespreek omdat die pers nie toegelaat is by die vergadering nie. Die deursigtigheid van die proses het daardeur in die gedrang gekom. Skriftelike vrae aan die Grondeisekommissie in hierdie verband en ook oor die naverkoopsooreenkoms is teen druktyd nog nie beantwoord nie.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines