ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Bergwater-verdagtes weer in die hof

 

News  Date: 01 April 2016

 

Die twee mans wat daarvan verdink word dat hulle betrokke was by die Bergwater Hotel rooftog het verlede week weer vlugtig in die hof verskyn.

Steven Nevhungoni (37) en Leon Setje Ndinae (21) het in die Louis Trichardt Distrikshof verskyn op ‘n klag van roof met verswarende omstandighede. Die twee mans is die dag ná ‘n gewapende roof by die Bergwater Hotel gearresteer.

‘n Werknemer van die hotel, mnr. Hendrik Andries Jacobus Els (alombekend as Hennie), het destyds aan die Zoutpansberger vertel wat gebeur het. Hy het glo die twee betrap terwyl hulle besig was om die hotel se kluis uit die hotel te dra.

Een van die rowers, glo Nevhungoni, het Els oorrompel en beveel om in die ontvangskantoor te bly. Els het, toe hy gedink het dis veilig om uit te kom, gaan ondersoek instel. Hy het sy eie vuurwapen by hom gehad, waarvan die verdagtes nie bewus was nie.

Els het gesê dat hy nie ver gevorder het nie, toe die verdagtes hom gesien het. Hy het gesê dat een gedreig het om hom te skiet, en dat hy toe, uit vrees vir sy eie lewe, eerste ‘n skoot afgetrek het.

Nevhungoni is behandel in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal, en het tot so ‘n mate herstel dat hy nou self in die hof kan verskyn.

Hy en Ndinae het sedert die begin van die jaar al nege keer in die hof verskyn. ‘n Borgaansoek wat hulle gebring het, is van die hand gewys, en hulle sal in aanhouding bly tot die begin van hul verhoor.

Intussen is die mans se saak uitgestel tot 28 April om die polisie kans te gee om hul laaste ondersoek werk af te handel. 

Die Nasionale Vervolgingsgesag het ook aangedui dat hulle nie verder aandag gaan gee aan die teenklag van poging tot moord wat Ndinae teen Els gelê het nie. 

 

 

Written by

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines