

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 September 2005
MAKHADO – “Shoot the bastard,” het ‘n kaper aan sy gewapende medepligtige geskreeu, terwyl ‘n motorverkoopsman uit die bewegende gekaapte voertuig spring.
Die verkoopsman, oud-polisieman Charl Haasbroek, het Donderdag, 22 September, ternouernood ontkom, toe ‘n toetsrit met vermeende motorkopers onverwags omgesit het in ‘n gewelddadige motorkaping.
Lede van die plaaslike motorbedryf het vandeesweek kennis geneem van dié ontstellende wedervaring. Dit word beskou as ‘n verwikkeling wat ernstige implikasies inhou vir motorverkoopspersoneel.
Mnr. Haasbroek het vertel van die voorval waarin hy telkens rede gehad het om die ergste te vrees, terwyl hy deur ‘n gewapende rower aangehou is in die voortsnellende dubbelkajuitvoertuig wat hy kort tevore vir ‘n toetsrit aan die vermeende kliënt beskikbaar gestel het. Hy het sy kollegas in die motorbedryf gewaarsku om op hul hoede te wees vir die kapers, wat opvallend daarop uit is om ‘n voertuig vir ‘n rooftog te bekom. Dit is vermoedelik dieselfde twee lede van ‘n georganiseerde groep wat ‘n week tevore probeer het om ‘n motorhandelaar van Mokopane (Potgietersrus) in ‘n soortgelyke situasie in te lok. In Polokwane is daar na bewering reeds voertuie in vyf soortgelyke voorvalle gebuit.
Mnr. Haasbroek sê die twee verdagtes, een kort, stewig gebou met ‘n brilletjie en een lank en skraal, het heeltemal eg voorgekom toe hulle by Premier Auto opgedaag het om te onderhandel vir die aankoop van ‘n voertuig.
“Toe hulle later vra of ‘n toetsrit moontlik is, het ek ‘n geldige rybewys gesien en daar was geen aanduiding van enigiets ongerymd nie. Sowat tien kilometer uit op die N1-suid het ek omgedraai. Die een wat vroeër sy rybewys getoon het, het gevra of hy ‘n bietjie kan ry. Ek het agter in die dubbelkajuit gaan sit vir die rit terug.
Hulle wou die voertuig toe ook op ‘n grondpad toets en ons het by die Vondelingpad ingedraai. Na ‘n sowat 6km was hulle tevrede en het rustig omgedraai. Net na die omdraaislag het die een aan die passasierskant skielik omgedraai en my met ‘n 9mm-pistool in die hand beveel om plat te lê. Hulle het my selfoon en beursie afgevat terwyl hulle vinnig teruggery het en links in die N1-suid ingedraai het. Hulle het iemand gebel en in ‘n onbekende taal gepraat. Terwyl ons verby ‘n voertuig gery het, het hulle die toeter geblaas en die ander voertuig het teruggesein. Hulle het stadiger gery en links afgedraai in ‘n grondpad. Ek het die een hoor sê: ‘Let’s shoot the bastard’. Hulle het skielik stadiger gery. Ek het besef daar’s min tyd en vinnig met die een hand die linkerdeur se slot oopgeruk, die deur oopgestamp en uitgespring.”
Mnr. Haasbroek het oor ‘n heiningdraad gespring en in die ruie veld ingehardloop. Die kapers het met na ‘n tydjie met die voertuig weggejaag en hy het begin terugloop na die hoofpad, waar ‘n bekende, mnr. Nico Richter, met ‘n bakkie by hom gestop het. Hulle is saam in die rigting van Pietersburg agter die gesteelde voertuig aan, omdat dit nie baie brandstof ingehad het nie. Kort daarna het die gesteelde bakkie digby die tolhek verlate aangetref.
“‘n Pompjoggie by ‘n vulstasie daar naby het vir my gesê die kapers het met die R100 wat hulle saam met my ander persoonlike besitting afgeneem het, diesel ingetap. Toe hulle die voertuig weer wou aanskakel, wou dit nie vat nie. Toe ons die voertuig aanskakel, nadat ons dit teruggevind het, het dit sonder enige probleem gevat. Dit was beslis ‘n bestiering,” sê Charl.
Mnr. Haasbroek is vol lof vir almal wat aan hom bystand verleen het. Hy het ook waardering vir die optrede van die polisie, waar ‘n saak van gewapende roof aangemeld is.
By navraag het ‘n kollega van mnr. Haasbroek, mnr. Tonie Greyling van NTT Toyota op Mokopane gesê volgens die beskrywing is dit dieselfde twee wat die vorige week by sy onderneming ‘n jong verkoopsman met ‘n slenter na Louis Trichardt gelok het. Hy het toe saam met die verkoopsman gery omdat hy onraad vermoed het. Die twee was toe kamma haastig, toe hulle sien daar is twee mense in die voertuig, en sou self weer na Mokopane terugkom.
“Toe hulle later opdaag, het ons hulle goed dopgehou en bemerk dat hulle om die hoek by mense in ‘n ligblou Toyota Corolla aansluit. Hulle gebruik ook ‘n nuwe Audi A3. Ek dink hulle is van Johannesburg,” het mnr. Greyling gesê. Die polisie het vasgestel dat die Carola geregistreer is by ‘n vals adres in Marblehall en met ‘n vals identiteitsdokument.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
