

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 September 2005
MAKHADO – Die blanke bevolkingsgroep moet homself voor die Here verootmoedig en in beskeidenheid vra vir ‘n tweede kans om Afrika met die Evangelie en met hul besondere kundigheid te bedien.
‘n Prominente geestelike leier in die Soutpansberg sê te midde van ‘n verpolitiseerde kultuurbotsing en rassepolarisasie, sal die gevaarlike spanning in die huidige bedeling net ontlont kan word as alle bevolkingsgroepe mekaar met wedersydse respek op geestelike vlak kan ontmoet en beleef. Die onbenydenswaardige situasie waarin veral die blanke bevolking hom nou bevind, is die regstreekse gevolg van dié bevolkingsgroep se versaking van sy oorspronklike Christelike roeping.
Die voorsitter van die Soutpansberg Leraarsforum op die dorp, dr. Philip Venter, sê: “Ons witmense het nie ons werk gedoen nie.”
Hy het in ‘n onderhoud die stilte verbreek nadat hy hom afgesonder het om die Here se leiding te soek ten opsigte van ‘n situasie wat toenemende spanning en frustrasie in die gemeenskap tot gevolg het.
“Ek het nie ‘n plan nie, maar ek weet nou hoe die Here ons sien. Dit is baie duidelik. Ons het nie ons werk gedoen nie.
“Ons mense is hier na Afrika toe gestuur om die Evangelie van Jesus Christus hierheen te bring en om terselfdertyd Afrika te bedien met ons bepaalde kundigheid. Alle mense is gelyk geskape, maar almal is nie met dieselfde vermoëns en bekwaamheid toegerus nie.
“Ons ywer met die Evangelie is grotendeels ongedaan gemaak deurdat ons dit nie in die praktyk uitgelewe het nie en ons kundigheid nie gehoorsaam, onselfsugtig in gemeenskaplike belang benut het nie. Daarmee het ons, in plaas van liefde, weerstand en opstand teen die Evangelie bewerkstellig.
“In plaas daarvan om ons kundigheid tot gelyke wedersydse voordeel te gebruik, deur met Christelike naasteliefde ons medemense hier te bevoordeel en te bemagtig, het ons onsself ten koste van hulle verryk. Ons het grond, werksgeleenthede en geld eiesinnig vir ons self toegeëien en hulle misken deur in vele opsigte van hulle slawe te maak.
“Noudat hulle oor die politieke mag beskik, kom dié weersin en opstand onbeteueld op alle terreine na vore.”
Dr. Venter sê om ‘n uitweg te vind uit die huidige stand van sake is daar, menslik gesproke, verskeie benaderingswyses: Mense kan bloot heeltemal niks doen nie en hoop die ongesonde spanning, probleme, misdaad en korrupsie sal later vanself weggaan. Mense kan hulleself heeltemal onthou van alle deelname en optrede. Andersins kan mense besluit dis makliker en verstandiger om alle beginsels oorboord te gooi en bloot saam met die stroom te beweeg. ‘n Ander uitweg is om pad te gee, landuit. Sommige sal gewelddadige verset dalk as ‘n opsie beskou.
Hy het geweld nadruklik afgewys en gesê: “Ons sal die reg moet verdien om in liefde die Evangelie te bring. Ons sal ‘n hartsverandering moet ondergaan in ons bediening aan Afrikane.”
Dr. Venter het verwys na die toenemende probleem van duisende mense wat onwettig oor die land se grense na binnestroom. Hy sê dié krisis is ‘n besondere geleentheid vir Christenkerke om hierdie menslike nood te help verlig.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
