

ADVERTISEMENT:

News Date: 30 September 2005
MAKHADO – Die teenwoordigheid van plakkershutte in die dorp is ‘n realiteit en so het inwoners mnr. Pierre van den Heever en Helena Klopper, dit ook agtergekom toe hul buurman begin het om plakkershutte in sy agterplaas te laat oprig.
Pierre en Helena het kort nadat hulle by hul woning in Burgerstraat ingetrek het, begin opmerk dat hul buurman plakkershutte in sy agterplaas oprig. Die probleem het erger geraak nadat van die hutte reg lang hul heining gebou is. Die dakke van die hutte was van so ‘n aard dat dit selfs oor die heining begin hang het.
Saam met die groeiende gemeenskap in hul buurman se agterplaas, het ‘n ander ongesonde probleem sy kop uitgesteek. Die buurman reg agter hulle het twee pit-toilette reg teen hul heining opgerig vir sy bestuurskool se leerlinge se gebruik. Pierre en Helena het al by verskeie geleenthede met beide bure gepraat. Veral oor die pit-toilette en die onaangename reuk wat gedurig daar hang.
Mnr. Daniël Mavhunga, ‘n munisipale gesondheidsinspekteur het ses weke gelede vir die eerste keer uitgekom om Pierre en Helena se klagte te ondersoek. Op 23 September het die inspekteur vir die derde keer uitgekom en met beide oortreders gaan gesels, maar sy woorde het op dowe ore geval en die situasie het nie verander nie.
Mnr. Peter Magwala, die Raad se Direkteur Korporatiewe Dienste het by navraag gesê dat geen persoon sommer goedsmoeds op hul erf mag bou nie. Sekere regulasies geld in seker omstandighede.
“As ‘n munisipaliteit keer ons nie plakkers in die dorp goed nie en bouregulasies laat nie die bou van plakkershutte toe nie. Die situasie sal ondersoek word en die regte stappe sal geneem word. Plakkershutte word om twee redes in die dorp verbied. Eerstens weens die gesondheidsrisiko en tweedens die moontlikheid van kriminele aktiwiteite. Die munisipaliteit sal in noue samewerking met die polisie optree om die situasie so gou as moontlik te herstel,” het Magwala gesê.

ADVERTISEMENT:
