

ADVERTISEMENT:

Sakevrou Dawn Smit van Pest Control Specialists hou haar regte tjekboek vas, saam met ‘n afskrif van een van die twee “besigheidtjeks” waarmee swendelaars op uiters geslepe wyse probeer het om bykans R100 000 uit haar besigheidsrekening te steel. Saam met die afskrif is ‘n kopié van die ID van die man wat probeer het om die tjek in Levubu te wissel. Tot haar handtekening is bykans perfek op die tjek vervals.
News Date: 04 April 2016
Die slimstreke waarmee swendelaars deesdae vorendag kom om mense uit hul geld te bedrieg, is verstommend, en was dit nie vir op-en-wakker bankkassiere nie was Louis Trichardt sakevrou Dawn Smit van Pest Control Specialists hierdie week R99 000 armer.
Dawn het verlede week die Zoutpansberger vertel van haar nagmerrie-ervaring en inwoners gewaarsku om op hul hoede te wees. Dit het alles omstreek 12:00 op Vrydag, 18 Maart, begin, toe sy ‘n oproep van ‘n vrou ontvang wat haar meedeel daar is ‘n probleem met haar Vodacom-selfoonnommer. "Sy het vir my gesê sy is van Vodacom en dat my telefoon nie meer ge-RICA is nie. Volgens haar het daar ‘n nuwe vrou by hulle begin werk en sy het per ongeluk my nommer met ‘n ander nommer vervang [van ene mnr. Van Tonder]." Hierop het Dawn gesê dat dit nie haar probleem is nie en sy na die Vodacom-agentskap sou gaan.
Skaars het sy klaar met die vrou gepraat, toe bel iemand op hulle Telkom-landlyn. “Hulle praat toe met Peet [Snyder] en sê vir Peet ons moet ons skakelbord afsit vir ‘n uur, want ons lyn bots met die van ‘n speelgoedwinkel. Ons oproepe gaan blykbaar soontoe,” het Dawn gesê.
Peet het egter vir die “Telkom-beampte” gesê hulle moenie kanse vat nie, want hy antwoord al die hele dag oproepe wat reg deurkom na hulle toe. Die beampte het neergesit, maar ‘n kort rukkie later weer geskakel. “Hulle het vir Peet my ID-nommer, adres, telefoonnommer en volle name gegee en gesê Dawn Smit het gesê hulle kan die telefone afsit. Intussen staan ek langs Peet op my selfoon en praat,” het Dawn gesê. Peet het toe die beampte meegedeel dat dit ‘n besigheidsnommer is en dat Dawn vir hom sou gesê het as die nommer afgesit moes word. Hierop het die beampte vir Peet gevloek, die telefoon neergegooi en die volgende oomblik het Dawn-hulle se landlyne doodgegaan.
Met dié het Dawn dadelik haar bank geskakel en gevra dat hulle onmiddellik al haar rekeninge moet vries. “Hoekom ek dit gedink het, weet ek nie, maar ek het net so ‘n gevoel gekry,” het Dawn gesê. Sy is sommer ook dadelik na die Vodacom-agentskap.
“Daar gekom sê hulle vir my ek is nie meer ge-RICA nie.” Dawn moes weer haar ID-boek verskaf en bewys van woonadres lewer om ge-RICA te word – ‘n proses wat haar bykans ‘n uur besig gehou het. “Met dit lui my foon 173 keer, alles Private Calls – dit het gewys op my foon,” het Dawn gesê. In ‘n stadium moes Dawn haar foon afsit, want die beampte by Vodacom het haar simkaart nodig gehad om die RICA-proses af te handel. “Ek sê toe vir haar dat ek te bang is om my foon af te sit.” Noodgedwonge het sy haar simkaart uitgehaal, maar selfs toe sy dit weer terugsit in haar foon, het die ongeïdentifiseerde oproepe net aangehou.
Toe Dawn omstreeks 15:00 uiteindelik weer terugkom by haar besigheid, kom haar man, Gideon, aangehardloop. “Hy sê vir my iemand het by ABSA in Levubu probeer om 'n besigheidstjek van ons van R50 000 te wissel.” Dié transaksie kon egter nie beklink word nie, danksy ‘n op en wakker kassier. Die bank, wat onraad vermoed het, het uiteindelik vir Gideon in die hande gekry, nadat hulle nie vir Dawn op haar selfoon of die besigheid se landlyn kon bereik nie. “Dit lyk my hulle hou jou besig op die foon, sodat die bank jou nie kan kry om die uitbetaling te verifieer nie.” Beide haar selfoon en al twee haar landlyne was in daardie stadium buite aksie. “Gelukkig het ek heel eerste die bank geskakel en gesê plaas ‘n hold op my rekening.”
Dawn en Gideon is vir die naweek weg, nadat sy weer met die bank gereël het dat sy slegs inbetalings op haar besigheidsrekening kon ontvang.
Dinsdag (22ste) het Dawn vir ABSA Bank in Louis Trichardt geskakel om op te volg oor die voorval. “Toe sê hulle vir my daar was ‘n tweede tjek wat iemand probeer wissel het by Elim vir R49 000.” Dawn het hierop weer die kassier by ABSA op Levubu geskakel, wat aan haar bevestig het dat ‘n persoon hom verlede Donderdag (17de) geskakel het. Die persoon, ‘n blanke vrou wat Engels gepraat het, het aan die kassier gesê sy is Dawn Smit en kon Dawn se ID-nommer, telefoonnommer en besigheidsadres aan die kassier gee. Die vrou het die kassier ingelig dat hulle die volgende dag ‘n besigheidstjek van R50 000 sou kom wissel. Gelukkig vir Dawn was die kassier ook op-en-wakker. “Hy het vir hulle gevra waarom hulle nie die tjek in Louis Trichardt kon wissel nie. Hul antwoord was dat hulle implemente in Levubu sou gaan koop en nie met die groot bedrag geld vanaf Louis Trichardt na Levubu wou ry nie.”
In daardie stadium het Dawn nog nie haar rekening gevries nie en was dit net die kassier se optrede wat Dawn duisende rande gespaar het. Die einste kassier is dieselfde man wat Dawn gewoonlik help by die bank se Louis Trichardt-tak. Toe die swartman met die tjek voor hom kom staan, het hy dadelik vir Dawn geskakel, maar by ‘n Engelssprekende “Dawn” uitgekom. Omdat hy vir Dawn goed ken en self Afrikaans praat, was dit vir hom vreemd dat "Dawn" nou skielik net Engels praat. “Hy het vir my gesê hoe meer hy vrae vra, hoe meer fishy het alles vir hom gelyk.” Die kassier het toe vir die man gesê hy kan nie die bedrag uitbetaal nie, want hulle moes 48 uur kennis gegee het, en die tjek aan hom teruggegee.
In Levubu, sê Dawn, kon die polisie daarin slaag om die man wat die tjek probeer wissel het, te arresteer. Sy het egter gesê dat sy teen einde verlede week nog geen terugvoer van die polisie ontvang het of die man nog in aanhouding is nie. Die man het blykbaar Zoeloe gepraat.
Dawn het ná die voorval gesê dat nie Vodacom of Telkom vir haar kon verklaar hoe daar met haar Vodacom-nommer en die Telkom-lyne gepeuter is nie. ABSA, het Dawn gesê, het egter bevestig dat hulle die voorval ondersoek. Sy het baie vrae oor wat gebeur het, soos hoe die mense haar persoonlike inligting in die hande kon kry en hoe hulle selfs geweet het wat die volgende reeksnommers in haar tjekboek was wat nog nie uitgeskryf is nie. “Dit is asof hulle ‘n duplikaat gehad het van my besigheid se tjekboek,” het Dawn gesê. Gelukkig het sy geen geld verloor nie.
Dawn het gesê sy is van voorneme om totaal en al die gebruik van haar tjekboek uit te skakel. “Nou is mens bang, want netnou kry hulle jou Internet bankbesonderhede. Mens jaag al hierdie spoke op.”
Dit blyk duidelik dat heelwat mense by die slenter betrokke is. Buiten die blanke vrou, was die vrou wat aanvanklik met Dawn gepraat het oor haar Vodacom-nommer, ene Michele, 'n Indiër. Daar was meer as een swartman betrokke, en volgens Dawn is die ABSA-kassier in Louis Trichardt ook deur ‘n blanke man geskakel wat probeer Engels praat het.
“Hierdie goed maak mens paranoïes, maar hierdie paranoia het my R99 000 gespaar,” het Dawn gesê. Sy sê die ervarings het haar 10 jaar ouer gemaak. "Jou geld is net nêrens meer veilig nie, nie eers in ‘n trommel onder jou bed nie."
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
