ADVERTISEMENT:

 

Mnr. en mev. Andries en Alida du Preez, wat 700km gereis het om hul familie se graf tussen die grasse in die Louis Trichardt Begraafplaas aan te tref. Die foto is op 19 April geneem.

Begraafplaas word 'n woeste doolhof

 

News  Date: 23 April 2004

 

MAKHADO (LOUIS TRICHARDT) – "Om te dink, my oorlede ma lê hier tussen die grasse – sy wat tot op haar oudag elke bossie wat sy sien, met haar eie hande sou uittrek…"

Aan die woord is mev. Alida du Preez (72) wat byna 700km vanaf Reits in die Vrystaat gereis het om haar moeder se graf in die Louis Trichardt Begraafplaas te besoek.

Op Saterdag (17de) het mev. Alida du Preez en haar eggenoot, mnr. Andries du Preez, sukkelend oor ongelyke terrein hul weg deur die lang gras gebaan op soek na die graf. Onderweg het beskadigde grafblaaie en skewe kopstukke hulle verder omgekrap. Toe hulle uiteindelik die graf vind, het mev. Du Preez gehuil van ontsteltenis oor die toegegroeide graf. "Het ons ons moeder se oorskot al die pad van die Kaap af laat kom om saam in ons vader se graf te rus in hierdie patetiese omstandighede?" Haar vader, mnr. Naas van der Merwe, is in 1985 in die begraafplaas begrawe. In dieselfde graf is haar susterskind in 1988 en haar moeder, Alida, in 1990 begrawe.

Teen Maandag (19de) het mev. Du Preez nog nie haar suster in die Kaap, broers in Engeland en ander familie in Australië laat weet hoe sy hul familiegraf aangetref het nie. "Hierdie saak moet eers opgeklaar word," het mev. Du Preez gesê en die Makhado Munisipaliteit besoek.

Daar het mnr. Mapholi, Direkteur: Tegniese Dienste sy verskoning vir mev. Du Preez aangebied. Mnr. Mapholi en die stadsingenieur, mnr. Gideon van Zyl, het onverwyld na die begraafplaas gegaan. "Ek het nou genoeg gehad. Hierdie saak sal nou uitgesorteer word," het mnr. Mapholi gesê, tydens sy gesprek met mev. Du Preez. Sy was die derde klaer oor die begraafplaas in twee weke.

Mnr. van Zyl het gesê dat syns insiens 'n paar tuinbankies, ordentlike gras en 'n betonomheining 'n aanwins vir die begraafplaas sou wees. Hy is egter besig met die opstel van 'n volledige verslag oor die begraafplaas.

Mnr. Mapholi het op Dinsdag (20ste) gesê dat die verslag volgende week voor die Bestuurskomitee van die Raad kan dien. Verder het mnr. Mapholi het gesê dat 'n begraafplaas met respek bejeën en onderhou moet word en dat die snyers al reeds aan die gang is in die gedeelte waar mev. Alida du Preez se familiegraf is. Mev. Du Preez het Maandag aan hom gesê dat sy binne drie dae altesaam vier maal by die begraafplaas was en nie een maal enige werkers daar gewaar het nie.

Vroeër die maand was daar ongelukkigheid toe mev. Adri Kloppers en haar familie van Pretoria nie haar moeder se graf kon vind nie, nadat die grondhopies wat die nuwe grafte aangedui het, platgestoot is. Die munisipaliteit het onderneem om nommeraanwysings aan te bring. Dié standaardnommers wat in begraafplase gebruik word, is tans op bestelling en word eersdaags vanuit Gauteng verwag.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines