ADVERTISEMENT:

 

Projek help manne in die tronk

 

News  Date: 30 September 2005

 

MAKHADO – Mount Fuji Motors se Loslitdag “ontvoerings” en “in hegtenisnemings” het ‘n welkome skenking van R1 500 aan “losprysgeld” besorg vir ‘n buitengewone projek in die plaaslike Kutama/Sinthumule Maksimum Sekuriteit Gevangenis.

Die plaaslike polisie met ‘n vangwa en die plaaslike bevelvoerder het op vanjaar se Loslitdag saamgespeel met Mount Fuji se projek om uitgesoekte personeel van plaaslike motorhawens te “ontvoer” en “in hegtenis” te neem. Die ontvoerde personeel het hulle boeglam geskrik. Om hulle te bevry moes hul base ‘n “losprys” betaal.

Die personeel van Mount Fuji het waardering uitgespreek teenoor almal wat saamgespeel het om die Big Ideas from Smart People-projek te laat slaag.

Dit het ‘n kontantskenking opgelewer vir die Restorative Justice Healing Heartprojek in die Kutama/Sinthumule langtermyn gevangenis. Dié projek het ontstaan onder ‘n groep gerehabiliteerde gevangenes wat graag ‘n verskil wil maak in die gemeenskap. ‘n Fasiliteerder van die projek, me. Luina le Roux, sê hulle is deur ‘n proses van berading en het werklik berou oor hul dade. Hulle het ‘n projek aangepak om “iets” gratis aan die gemeenskap te kan bied. Een groep plant groente en skenk die vars produkte aan Ons Tuiste, Takalani weeshuis in Siloam, Vhohabaca Vigs weeshuis in Thohoyandou, en aan die CMR. Nog ‘n groep doen tradisionele kralewerk. ‘n Derde groep doen naaldwerk en verskaf sweetpakke en ‘n verskeidenheid kinderklere, terwyl afvalmateriaal kunstig verwerk word in laslappie komberse. Me Juliana Kruger, wat op ‘n weeklikse grondslag saam met die groep werk, gee leiding en help om materiaal te bekom.

‘n Vierde groep doen houtwerk en vervaardig veral handige kinderspeelgoed, wat hulle graag as kersfeesgeskenke wil uitgee aan weeshuise.

‘n Ander groep maak ‘n verskeidenheid geleentheidskaartjies uit letterlik enige materiaal – karton, kant, lint, knope, verf, blinkers, muurpapier en ou kaartjies. Tydens Moedersdag is kaartjies en kunstigversierde houertjies met lekkers aan die inwoners van Laat Lente en Herfsakker geskenk. Die inwoners het reageer met dankie briefies aan die manne. Mev. Erna Prinsloo werk weekliks saam met hierdie groep.

Die organiseerders het veral dank betuig aan Leach Printers, Kirstens Boekwinkel en Limpopo Melkery vir ruim bydraes.

“Hoe groter die verskeidenheid skenkings, hoe groter die kreatiwiteit wat te voorskyn kom,” sê me. Prinsloo. “Dit beteken vir hulle ‘n nuwe lewe.”

Elkeen van die projekte in die gevangenis het ‘n leier wat uit eie geledere gekies is. Die leiers het weer mense uit die publiek genader om betrokke te raak. Die gevangenes beskik oor ‘n verrassende verskeidenheid vaardighede, maar steun sterk op donasies uit die publiek, aangesien al die artikels wat hulle vervaardig, gratis geskenk word.

Vir skenkings en meer inligting kan Juliana by tel (015) 516 4326 of Erna by 516 4706 geskakel word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines