

ADVERTISEMENT:

News Date: 07 October 2005
MAKHADO – Die onlangse uitbraak van ingewandskoors (typhoid fever) op Delmas in Mpumalanga vanweë besoedelde drinkwater het ook hier begin kommer wek.
Rou riool wat sedert verlede week ongehinderd vanuit ‘n opgaardam by die rioolpompstasie op die hoek van Byles- en Industriastraat in die industriële gebied vloei, het bekommernis aangevuur oor die gehalte van die dorp se drinkwater. Die riool vloei vanuit die opgaardam, oor die pad tot in die stormwaterstelsel wat uiteindelik dreineer in ‘n “vleilandgebied” digby die munisipaliteit se Nooitgedacht-boorgate. Die munisipaliteit se Direkteur Tegniese Dienste, mnr. Masindi Mapholi, het Woensdag bevestig dat sekere van die boorgate gebruik word om die dorp se reservoirs aan te vul, terwyl ander direk aan die watervoorsieningsnetwerk gekoppel is.
Prof. Ben van der Waal van die Departement Biologiese Wetenskappe by die Universiteit van Venda, wat Dinsdag die toneel besoek het, het die situasie as “totaal onaanvaarbaar” beskryf. As onmiddellike gevaar, sê prof. Van der Waal, kan die rou riool onwenslike virusse en bakterieë in die grondwater laat beland wat by enige van die boorgate weer uitgepomp kan word. Tweedens, sê hy, is die soutbelading uitermatig, aangesien riool baie meer sout bevat as gewone water. Dit veroorsaak uiteindelik dat die water glad nie gebruik kan word nie, nie eers vir besproeiing nie. Laastens, sê prof. Van der Waal, veroorsaak die rou riool dat nitrate en ander gevaarlike stowwe direk in die grondwater beland.
Om die negatiewe impak van rou riool wat in die ondergrondse watertafel beland uit te wys, het prof. Van der Waal verduidelik dat besoedelde water in ‘n rivier sowat ‘n maand vat om uit te suiwer. In waterdampvorm neem dit sowat agt dae om uit die lug te suiwer, terwyl dit ‘n ongelooflike 1 500 jaar neem vir ondergrondse water om vervang te word.
“Dit is dus die moeite werd om ondergrondse water te beskerm. Dit behels nie om rou riool daarin te stort nie,” het prof. Van der Waal gesê.
Alhoewel die dorp oor ‘n natuurlike vleilandsisteem onderkant die bestaande riool-suiwerringsaanleg beskik, wat verder help om behandelde rioolwater te suiwer, sê prof. Van der Waal dat dit belangrik is om nie só ‘n sisteem te oorlaai met ‘n oormaat rou riool soos die geval is in die industriële gebied nie. Hy sê dat só ‘n vleilandstelsel met baie goeie bestuur ‘n waardevolle bydrae kan lewer ten opsigte van die suiwering van behandelde rioolwater. As voorbeeld het hy die Koriangabdam buite Windhoek in Namibië genoem. Behandelde rioolwater word direk in die dam ingepomp en hersirkuleer as drinkwater.
“Die dam is ‘n voorbeeld van hoe goeie bestuur almal tot voordeel kan strek,” sê prof. Van der Waal.
Mnr. Mapholi het op sy beurt volgehou dat die rioolwater wat in die “vleiland” dreineer geen negatiewe impak inhou ten opsigte van die omliggende grondwaterbronne nie. Hy sê dat die Raad selfs ‘n wetenskaplike gekry het om die gehalte van die water te toets, sonder enige negatiewe bevindings. Mnr. Mapholi het bygevoeg dat die boorgate se water ook gereeld getoets word en dat dit veilig is vir gebruik.
Die riool wat by die opgaardam by die betrokke pompstasie vloei is hoofsaaklik afkomstig vanaf die Kutama/Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis, Uitbreiding 8 en ‘n gedeelte van Eltivillas Uitbreiding 11. Die rioolpomp by die pompstasie het uitgebrand, wat aanleiding gegee het tot die probleem. Dié betrokke pompstasie gee herhaaldelik probleme met rou riool wat gereeld uit die opgaardam stroom. In Augustus verlede is daar berig oor ‘n soortgelyke probleem, met die Raad wat onderneem het om daaraan aandag te gee. In daardie stadium kon hulle nie ‘n aanduiding gee van hoe lank dit sou neem om die probleem op te los nie. Meer as ‘n jaar later is die probleem steeds onopgelos, alhoewel mnr. Mapholi sê dat die huidige probleem ‘n nuwe een is. Hy het genoem dat die uitgebrande pomp herstel is en dat die pompstasie so spoedig moontlik weer inwerking gestel sal word. Hy het bygevoeg dat twee addisionele pompe ook reeds bestel is om te help om die groot hoeveelheid riool weg te pomp.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
