ADVERTISEMENT:

 

Man aangeval op verlate bosboupad

 

News  Date: 25 January 2002

 

LOUIS TRICHARDT – 'n Agt-en-twintigjarige inwoner van Roodewal is beseer en sy voertuig uitgebrand, tydens 'n aanval op die SAFCOL-plantasiepad oos van die Sonop-woonbuurt in Louis Trichardt.

Die man, mnr. Leon Bronkhorst, moes Dinsdagaand omstreeks 19:45 op pad terug na sy woning op die bosbou toegangspad stilhou by 'n hek wat met 'n draad vasgemaak was. Die hek staan normaalweg pal oop.

Mnr. Bronkhorst het onraad vermoed en sy vader gebel om hom van die insident in te lig.

"Ek het onraad vermoed en na ongeveer twee minute, wat ek stil in die voertuig bly sit het, uitgeklim. Ek het niks bemerk terwyl ek na die hek beweeg het nie. Nadat ek die draad verwyder het waarmee die hek vasgebind was, het ek omgedraai, terug na my voertuig toe. Skielik het 'n man my verras toe hy agter my voertuig uitgehardloop het en my met 'n onbekende voorwerp deur die gesig geslaan het," sê mnr. Bronkhorst.

Mnr. Bronkhorst het daarin geslaag om weg te hardloop in die rigting van sy woonhuis.

"My voertuig was afgeskakel toe ek uitgeklim het en ek het die sleutel in my sak gehad."

Mnr. Bronkhorst sê hy het net een persoon gesien tydens die aanval.

Die boosdoener het intussen na bewering sy voertuig aan die brand gesteek en ook op verskeie plekke in die plantasie probeer brande stig.

Lede van die veiligheidsdienste was spoedig op die toneel nadat hulle ontbied is. Mnr. Bronkhorst is na die hospitaal op Louis Trichardt gebring, waar hy na behandeling vir veelvuldige beserings ontslaan is.

"Ek vermoed die motief vir die aanval was roof, maar op die wreedaardige wyse wat ek aangerand is, kon hulle my doodgemaak het. Ek was alleen en het vir my lewe gevrees," se mnr. Bronkhorst.

'n Intensiewe soektog na moontlike verdagtes is in die plantasie onderneem. Die soektog word bemoeilik deur die ruie bergagtige terrein.

Die aanval is erg traumaties, ook vir die ander bewoners van plase en hoewes in die andersins rustige omgewing. Verskeie gesinne met skoolgaande kinders beweeg daagliks op die betrokke smal afgeleë grondpad na skole in die dorp.

Die polisie se eenheid vir ernstige geweldsmisdaad ondersoek die voorval.

Mnr. Bronkhorst en sy eggenote Stephanie het Woensdag na die voorval met groot waardering verwys na die bystand wat hulle ontvang het van talle mense en instansies.

"Dit is werklik verblydend om te sien dat daar soveel mense is wat nog bereid is om 'n mens in nood by te staan," het hulle gesê.

 

Written by

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines