ADVERTISEMENT:

 

‘n Voorbeeld van die hoeveelheid “goedere” wat by ‘n pompstasie, waar die pomp uitgebrand het, uitgehaal is.

Inwoners se laksheid dra by tot riool-krisis

 

News  Date: 14 October 2005

 

MAKHADO – Toenemende kritiek oor die dorp se gebrekkige en, in sommige gevalle, disfunksionele rioolstelsel kan nie alleen voor die deur van die dorp se stadsvaders gelê word nie.

Die Makhado Munisipaliteit is die afgelope week weereens voor stok gekry oor die probleem van rou riool wat ongehinderd, enkeldiep oor ‘n openbare pad binne in ‘n “vleiland” in dreineer. Die probleem is veroorsaak deur ‘n rioolpomp wat uitgebrand het by ‘n rioolpompstasie. Die rioolpompstasie het in die verlede verskeie soortgelyke probleme veroorsaak, tot groot frustrasie van omliggende besighede. Dit het ook vrese aangewakker by inwoners oor die besoedelingsgevaar wat die rou riool inhou vir die dorp se ondergrondse watertafel vanwaar die munisipaliteit water pomp om van die dorp se waterreservoirs aan te vul.

Die probleem rondom die dorp se gebrekkige en uitgediende rioolstesel is nie nuut nie. In November verlede jaar het die dorp se toe waarnemende munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, tydens ‘n vergadering van die Raad se uitvoerende komitee opgemerk dat die probleme rondom die rioolstesel as ‘n “krisis” beskou moet word en dat daar dringend opgetree moet word om “moontlike eise” teen die Raad te voorkom.

Mnr. Louw Pretorius van die Raad se departement van water en sanitasie het Maandag gesê dat die probleem rondom die pompe wat uitbrand nie alleen voor die deur van die munisipaliteit gelê kan word nie. Sy uitlating is beaam deur die Raad se Direkteur Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala.

Pretorius sê dat in amper 99% van die gevalle waar rioolpompe uitbrand, dit is as gevolg van vastestowwe wat deur inwoners in die rioolstesel gestort word. Van die “items” wat al by talle van die pompe uitgehaal is, sluit in onder meer onderklere, handdoeke, beursies, plastieksakke en weggooibare doeke. ‘n Voorbeeld is ook gewys van ‘n geseëlde koeldrankblikkie wat uit die stelsel gehaal is.

Pretorius sê hy kan nie verstaan hoe inwoners dit regkry om hierdie goed in die stelsel te stort nie. In gevalle, sê hy, het hulle al heel tandeborsels uit die stelsel gehaal. Hy het verduidelik dat enkele items moontlik deur die rioolpomp gehanteer kan word. Die probleem kom egter in wanneer hierdie items in die stelsel by die pomp opgaar en veroorsaak dat die pomp uitbrand.

Pretorius het inwoners versoek om nie sommer enige iets in die rioolstesel te stort nie. Hy het erken dat die stelsel uitgedien is, maar sê dat selfs met ‘n opgradering die probleem kan voortduur as inwoners nie ag slaan op hul versoek nie.

Intussen is die probleem by die rioolpompstasie op die hoek van Byles- en Industriastraat vir eers uitgesorteer, na herstelwerk die afgelope naweek.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines