

ADVERTISEMENT:

Lede van die AfriForum Louis Trichardt-tak saam met die AfriForum Jetpacker wat Maandag van die dorp se slaggate opgevul het. Van links na regs is Corné Smith, Drikus Lee, Wally Schultz, Cherise Gamble, Kobus Botha en Ephraim Mbokane.
News Date: 19 May 2016
AfriForum het Maandag R50 000 bewillig om 'n paar van Louis Trichardt se slaggate op te vul.
Hierdie projek vorm ook deel van AfriForum se onlangse selfdoen-inisiatief wat hulle geloods het. Altesaam het die burgerregte organisasie R1.2 miljoen spandeer om slaggate te herstel, nie net in Louis Trichardt nie, maar regoor Limpopo en Mpumalanga. Volgens AfriForum sal hulle die onkostes wat hulle aangegaan het later van die betrokke munisipaliteite verhaal.
“Ons moet minder afhanklik van die regering wees en eerder selfonderhoudend word,” het Chris Boshoff, AfriForum se assistentkoördineerder vir Limpopo, gesê.
“Politieke partye onderneem en beloof al vir jare om slaggate in ons dorp te herstel, maar niks het hiervan gekom nie,” het Wally Schultz, terugkerende voorsitter van AfriForum se plaaslike tak, Maandag gesê. Hy het in Maart die tuig neergelê weens sy gesondheid wat hom in die steek gelaat het, en ‘n dringende oogoperasie wat hy moes ondergaan. Maandag het Wally bevestig dat die tydjie se rus hom goed gedoen het, en dat hy weer reg is vir aksie.
Die ideaal, het die tak se sekretaresse, me. Cherise Gamble, verduidelik, is om genoeg lede te werf sodat daar meer sulke projekte gedoen kan word. “Hoe meer lede ons het, hoe meer fondse kan ons insamel vir ander strate wat ook herstel moet word,” het sy gesê.
Maandag was AfriForum se Jetpacker (‘n spesialis vragmotor wat slaggate herstel) in dele van Songozwi-, Celliers-, Anderson- en Hlangananistraat te sien.
By verdere navraag het Schultz verduidelik dat hulle al die strate blitsig moes herstel, daarom dat daar by tye verkeersopeenhopings was. Die vragmotors en kontrakteurs is net vir een dag aan Louis Trichardt beskikbaar gestel. Dit is ook die rede hoekom gevaarlike kruisings herstel is gedurende spitsverkeer tye. “Ons vra om verskoning vir enige ongerief wat ons veroorsaak het, maar dink dit was nodig sodat die slaggate herstel kon word. Die blootstelling was ook nodig, want ons wil graag soveel as moontlik nuwe lede werf om te help met toekomstige projekte,” het Schultz gesê.
Die plaaslike tak het reeds ‘n paar duisend rand ingesamel wat hulle in 'n rekening sal hou om nog slaggate reg te maak. Inwoners sal eers moet wag dat die Jetpacker klaarmaak met al die ander wagtende AfriForum-projekte elders in die provinsie.
Vir meer inligting oor AfriForum of om betrokke te raak, kan Wally geskakel word by tel. 079 298 2676.
Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

ADVERTISEMENT:
