

ADVERTISEMENT:

News Date: 21 October 2005
Die plaaslike Departement van Omgewingsake het ‘n groot slag geslaan toe talle onwettige vissermanne die afgelope twee weke aangekeer is by die Klein Letabadam.
‘n Groot hoeveelheid nette en handgemaakte ysterspiese is gekonfiskeer.
Die opmerksaamheid van beamptes van die Departement van Omgewingsake, wat in die omgewing van die rivier woon, het gelei tot ‘n ondersoek en operasie om die vissermanne, wat onwettig met nette visgetalle uitput, aan die pen te laat ry.
Beamptes het tydens twee operasies op onderskeidelik 8 en 16 Oktober toegeslaan. Tydens die eerste operasie is Mosambiekse burgers aangekeer. Hulle het per voertuig vanaf Malemulele gereis. Tydens die tweede operasie is sewe onwettige vissermanne gevang, nadat hulle op heterdaad betrap is waar hulle besig was om met nette te vang. Dit is onwettig om vis te net.
By verdere ondersoek is daar bevind dat die onwettige vissermanne uitsluitlik gepoog het om met die vis handel te dryf, en nie vis gevang het vir “oorlewing” nie.
Beide operasies is gelei deur me. Lorraine Nemutanzhela, ‘n natuurbewaringsbeampte, in samewerking met beamptes van die Departement van Omgewingsake. Die persone wat aangekeer is, is na die polisiestasie op Hlanganani geneem waar elk ‘n stewige boete van R1 500 opgelê is. Me Nemutanzhela sê dat sy sal aanhou met die operasies, totdat die mense die erns van die saak besef en ophou om onwettig vis te vang.
Volgens mnr. Tiny Sinden van die plaaslike Departement van Omgewingsake is dit onwettige om met ‘n net vis te vang. Daarbenewens is dit ook onwettig om sonder ‘n permit te hengel. Slegs twee visstokke per hengelaar, oftewel twee lyne met enkelhoeke, word deur die wet toegelaat.
Die gebruik van nette veroorsaak groot ekologiese skade. Daar is geen beheer oor die hoeveelhede vis, of die grootte daarvan, wat gevang word nie. Onbeheerde nettery kan tot gevolg hê dat ‘n dam se totale vispopulasie uitgeroei kan word. Mnr. Sinden het inwoners versoek om enige gevalle van onwettige visvangery so spoedig moontlik by die Departement van Omgewingsake aan te meld.

ADVERTISEMENT:
