ADVERTISEMENT:

 

Geweldenaar weer op vrye voet

 

News  Date: 28 October 2005

 

Solomon Modau (65), wat tereg staan op ‘n klag van poging tot moord op die Du Preez-egpaar in September vanjaar, het Maandag vir ‘n tweede keer versuim om by die hof op te daag.

Dit volg nadat hy juis vir ‘n tweede keer gearresteer moes word, omdat hy ook op 11 Oktober versuim het om in die hof te verskyn.

‘n Sameloop van omstandighede het daartoe gelei dat Modau weer op vryborg vrygelaat is, nadat hy op 11 Oktober versuim het om by die plaaslike landdroshof op te daag. ‘n Lasbrief vir sy arrestasie is uitgereik en hy is vier dae later by sy woning aangekeer deur die polisie. Modau het ter verduideliking oor waarom hy nie by die hof opgedaag het nie, beweer dat hy op 11 Oktober by ‘n polisiebeampte op Levubu gerapporteer het. Die polisie op Levubu het die beskuldigde se bewering gestaaf en derhalwe kon die hof hom nie skuldig bevind op ‘n klag van wanverskyning nie.

Intussen het dit onder die Staat se aandag gekom dat Modau vier aliasse gebruik en 16 vorige veroordelings teen sy naam het. Die Staat het op 21 Oktober ‘n aansoek in terme van Artikel 72(A) van die Strafproses Wet gebring dat Modau se posisie van ‘n “waarskuwing” hersien moet word en dat hy verder in aanhouding moet bly tot die saak afgehandel is.

Modau het egter om regshulp aansoek gedoen, waarop sy regsverteenwoordiger die hof Vrydag versoek het om hom meer tyd te gun om vir die saak voor te berei. Die hof het gehoor gegee aan die regsverteenwoordiger se versoek, waarop Modau weer op borg vrygelaat is met ‘n waarskuwing om Maandag weer te verskyn.

Op 24 Oktober het Modau egter weer versuim om op te daag en ‘n lasbrief is weereens vir sy arrestasie uitgereik. Teen druktyd was daar nog geen aanduiding of Modau weer aangekeer kon word nie. Intussen het die Du Preez-egpaar hul absolute misnoeë uitgespreek oor die wyse waarop die owerhede die saak hanteer en gesê dat hulle nie kan verstaan waarom Modau telkens vrygelaat kan word nie, net om weer nie by die hof op te daag nie. Intussen sê hulle, hulle lewe in vrees met die wete dat Modau op vrye voet is.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines