

ADVERTISEMENT:

Die nege-ton vragmotor waar dit langs die N1 omgeslaan het, bykans regoor Ons Tuiste Ouetehuis en skaars ‘n honderd meter vanaf die besige N1/Songozwistraat-kruising.
News Date: 17 June 2016
Dit kan net as ‘n wonderwerk beskryf word dat niemand in Dinsdagoggend se vragmotor-ongeluk op die N1-deurpad deur Louis Trichardt dood is nie.
Te midde van die druk oggendverkeer by die altyd-besige verkeersirkel op die hoek van Stubbsstraat en die N1, het motoriste ‘n bisarre gesig gesien. Asof vanuit nêrens het ‘n nege-ton vragmotor teen hoë spoed vanaf Musina se kant deur die sirkel gejaag gekom. Dit opsigself is sekerlik nie vreemd nie, want dit is nie die eerste keer dat ‘n weghol-vragmotor teen die Soutpansberg-bergpas afkom nie. Wat wel hierdie keer vreemd was, was dat die vragmotor in tru-rat gejaag het. Dit was ongeveer om 06:30.
“Toe ek by die sirkel kom, toe kom die vragmotor deurgejaag – in reverse op hoë spoed!” het ooggetuie Johan Steyn kort ná die ongeluk vertel. “In die sirkel het die vragmotor rakelings twee voertuie gemis … Hy het die een ou - ek dink hy het ‘n Ford-bakkie gery - se neus net-net gemis,” het Johan gesê terwyl hy met sy duim en wysvinger beduie hoe naby dit was.
Johan het dadelik die erns van die situasie besef. Hy het die vragmotor verbygesteek en die verkeer vanuit Polokwane se rigting met flitsende ligte en handgebare gewaarsku van die aankomende gevaar. Onder die aankomende verkeer was twee 30-ton dieseltenkwaens van Springbok Transport. Die bestuurder van die voorste tenkwa kon betyds na die regterbaan uitswaai, maar sy kollega in die agterste tenkwa was minder gelukkig.
“Toe ek sien, toe is hy voor my!” het die bestuurder van die agterste tenkwa, die 48-jarige Joël Maibi, gesê. Hy het haastig uitgeswaai na die regterbaan, maar besef dat hy nie nog verder regs kon gaan nie, anders sou hy tromp-op in die aankomende verkeer ingery het. Alhoewel hy sy tenkwa se neus buite gevaar kon kry, was sy sleepwa nog gedeeltelik in die linkerbaan.
Die volgende oomblik het die nege-ton vragmotor Joël se sleepwa getref. Die slag kon vir kilometers ver gehoor word vanweë die koue winterlug. Twee van Joël se voertuig se agterwiele is aan flarde geruk deur die nege-ton vragmotor. ‘n Deel van sy modderskerm het ook in die slag gebly. Beide die voorste en agterste tenks waarin Joël ‘n vol vrag diesel vervoer het, is twee groot duike ingeslaan. Gelukkig is die tenks nie oopgeruk nie. “En gelukkig was dit nie petrol nie,” het Johan gesê.
Die bestuurder van die nege-ton vragmotor, die 38-jarige Mohamed Abdi van Somalië, kon hierna nie meer sy vragmotor beheer nie. Die vragmotor het stertkant eerste teen die effens styl padreserwe afgejaag en omgeslaan - bykans regoor Ons Tuiste Ouetehuis.
Mohamed het, behalwe vir 'n bietjie skok, ongeskonde uit sy vragmotor geklim. Hy was besig om ‘n besending klerasie van Johannesburg na Musina te vervoer.
Op die toneel het talle omstanders Mohamed geloof vir sy behendige bestuursvernuf om vir soveel kilometers sy vragmotor, nogal in tru-rat, onder beheer te hou. Hy het aan die Zoutpansberger gesê dat hy besef het daar is moeilikheid met sy vragmotor toe hy deur die sirkel ry. “Toe ek deur die sirkel ry, het ek gesien hoe die lugdrukmeter, wat my remme beheer, skielik val,” het Mohamed gesê. Hy het toe besluit om die vragmotor op eie stoom teen die eerste steilte berg-op tot stilstand te laat kom.
“Die vragmotor het wel gestop, maar kort daarna het dit agteruit begin terugrol,” het Mohamed gesê. Alle pogings van Mohamed om die vragmotor te stop was vrugteloos. “Ek het die remme aanhou pomp, maar daar was niks nie!”
Mohamed het gesê daar was baie verkeer op die pad gewees. “Ek het my noodligte aangeskakel. Gelukkig het mense gesien die vragmotor hardloop agteruit en het padgegee,” het Mohamed gesê. Hy was baie dankbaar vir Johan wat vooruit gejaag het en die aankomende verkeer gewaarsku het. “As my remme gefaal het terwyl ek besig was om teen die Soutpansberg-bergpas af te ry, sou ek dood gewees het. Dit was beter dat dit hier gebeur het. Ek het gelukkig niemand doodgemaak nie,” het Mohamed gesê.
Johan was eweneens dankbaar dat, behalwe die skade aan Mohamed en Joël se vragmotors, niemand dood is nie. Skaars 100 meter verder is die N1/Songozwistraat-kruising. Dié kruising wemel altyd met verkeer vanaf Thohoyandou en die N1. Menige omstander was dit eens dat, sou Mohamed se vragmotor nie omgeslaan het waar dit het nie, hy in hierdie kruising sou ingejaag het. Dit sou definitief beserings of selfs lewensverlies tot gevolg gehad het.
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
