

ADVERTISEMENT:

News Date: 28 October 2005
“Ek het weer ‘n kans gekry,” sê die netjiese, skoongeskeerde mnr. Whitey Grové, voorheen ‘n ridder van die grootpad.
Intussen is sy vriend, mnr. Johan Botes, dood op ongeveer 61-jarige ouderdom. Rekenmeester André (HAP) van Niekerk, wat ‘n nuwe kans vir vier boemelaars gebied het, sê dat Johan op Vrydag (21ste) in ‘n koma gegaan het na ‘n beroerte-aanval. Hy is Woensdag oorlede.
“Dit is vir ons ‘n groot blydskap dat Johan sy lewe met die Here reggemaak het, voordat hy huis toe is,” sê André.
“n Roudiens word vir Johan gehou op Saterdag, 29 Oktober, om 15:00 by Proforum Rekenmeesters in Kroghstraat.
“Sy familie of identiteitsdokument kon nie opgespoor word nie en die staat sal hom begrawe,” sê André.
“Johan was die enigste een van ons vier vir wie ek moed gehad het,” vertel Whitey. Die ander twee is verlede week terug strate toe, nadat hulle weer begin drink het.
Die 45-jarige Whitey is egter vasbeslote om sy nuwe lewe met oorgawe aan te pak. Sy hande staan vir niks verkeerd nie. Hy lê plaveisel, doen instandhouding, bou en doen enige staalwerke.
“Dit is ‘n wonderlike gevoel om te werk en skoon en netjies te wees. Ek is die gelukkigste wat ek nog in my lewe was. Ek is nou ‘n kind van die Here en ek voel hoe die Heilige Gees met my praat," sê Whitey.
Hy dink terug aan sy jare op die paaie en sy oë trek sommer skrefies. Hy vertel hoe hy een aand onder ‘n boom sou slaap, ‘n ander aand dalk onder ‘n dak, as hy een kon kry. Hy het so twee of drie dae op ‘n dorp gebly.
“Om ‘n alkoholis te wees en daaruit te kom, is hel. Dis hoekom ek drank nou so haat. Maar ek het net myself om te blameer. Ek het gegaan om myself dood te drink,” sê Whitey.
Whitey is die enigste seun van ‘n vermoënde boer van Mooinooi naby Rustenburg. Hy is ‘n gekwalifiseerde dieselwerktuigkundige en ketelmaker. Alkohol, ‘n tydperk in die tronk en ‘n egskeiding het hom geknou. Whitey sê dat hy dit nie kon regkry om te bedel nie en dat hy eers onder die invloed van alkohol moes kom om sy trots in sy sak te kon steek.
“Eendag het Pastoor Palmer my in die straat by Telkom gekry en vir my gesê dat ek nie ‘n man van die pad was nie. Ek het gevoel hoe die Heilige Gees met my begin werk.”
Daarna het sy eertydse vriend, Ernest, hom na André genooi. Hy het net die grootste waardering en dank¬baarheid jeens André, Lynette en hulle kinders.
“Danksy die Here en André-hulle het ek ‘n nuwe lewe begin. Hulle sal my met ‘n ‘block-n-tackle’ hier moet wegvat as hulle my hier wil weghê,” sê Whitey. Sy pa-hulle gaan Desember kom kyk hoe dit met hom gaan en dan gaan hy sy kleinseun van so 14 maande oud sien.
Whitey is hartseer oor Johan se afsterwe. Hy en André is ook baie teleurgesteld dat Ernest en Wesley weer begin drink het.
“Hier het hulle alles gehad wat hulle in die lewe kon hê,” sê Whitey. Maar hy wat Whitey is, se voete is vas op sy nuwe pad. “Ek het hierdie kans gekry en vir werk is ek nie bang nie …”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
