ADVERTISEMENT:

 

Vrees vir rou riool in drinkwater

 

News  Date: 04 November 2005

 

Voortslepende probleme met die dorp se rioolstelsel stuur af op ‘n ekologiese ramp wat verreikende gevolge inhou vir die kwaliteit van die dorp se drinkwater.

Tans word sowat 25% van die dorp se drinkwater uit munisipale boorgate gepomp aangrensend tot die rioolsuiweringsaanleg. Toenemende druk op die aanleg veroorsaak egter dat rou riool vanaf die aanleg in ‘n vleiland eindig, skaars 20m vanaf een van die boorgate waaruit water gepomp word. Die situasie kan katastrofiese gevolge hê, sou besmette water in die dorp se waterreservoirs eindig. Die uitbraak van siektes soos ingewandkoors (typhoid fever) hou ‘n wesenlike gevaar in, soortgelyk aan die onlangse uitbraak in Delmas. Die vraag kan gevra word: Hoe veilig is die dorp se drinkwater?

Die afgelope paar weke het probleme rondom die dorp se rioolstesel kort-kort onder die soeklig gekom. Talle teorieë is geopper oor wat presies die probleem veroorsaak, waarop die Zoutpansberger besluit het om ondersoek in te stel.

Uit besoeke aan problematiese pompstasies en die rioolsuiweringsaanleg het dit duidelik geblyk dat die stelsel in totaliteit onvoldoende is, nie net ten opsigte van die stelsel se vermoë om die huidige hoeveelheid riool te hanteer nie, maar ook ten opsigte van die stelsel se aanvanklike ontwerp. Die rioolsuiweringsaanleg sal ook drasties en dringend opgegradeer moet word. Die Makhado Munisipaliteit het die afgelope paar maande by verskeie geleenthede erken dat die bestaande stelsel onvoldoende is.

Probleme met die dorp se rioolstesel het ontstaan met die opening van die Kutama Sinthumule Maksimum Sekuriteitsgevangenis.

Die hoeveelheid riool afkomstig vanaf die gevangenis per dag ewenaar dié van die totale dorp. Dit is veral tydens spitstye (vroeë oggend en aand) wat verstoppings voorkom. Aangesien die stelsel aanvanklik ontwerp is om net in die dorp se rioolbehoeftes te voldoen, is die hoeveelheid riool wat nou in die stelsel beland eenvoudig net te veel. Die pompstasies kan nie vinnig genoeg die riool na die suiweringsaanleg wegpomp nie, wat veroorsaak dat die riool in die rioolpype begin terugstoot. Dit veroorsaak dat riool by mangate uitborrel soos gereeld die geval. Maar helaas, die gevangenis kan nie vir die krisis geblameer word nie, aangesien hulle ‘n kontrak met die Raad het waarvolgens die Raad onderneem om ‘n diens te lewer.

Wanneer die groot hoeveelheid riool uiteindelik wel by die rioolsuiweringsaanleg opdaag, ontstaan ‘n volgende probleem. Die primêre doel van die aanleg is om die riool (of vastestowwe) van die water te skei. Weens die groot volumes, beweeg die rou riool te vinnig deur die stelsel en kan die skeiding nie voldoende plaasvind nie. Waar vastestowwe veronderstel is om in die biologiese filterdamme agter te bly, vloei dit oor in die verouderingsdamme. Aangesien die water weens die groot hoeveelheid vastestowwe ryk is aan nitrate en sulfate, dien dit as “kunsmis” vir ‘n klein waterplantjie (bekend as Duck Weed) in die verouderingsdamme. Die plantjies groei buite beheer en tans word van die verouderingsdamme by die aanleg bedek met ‘n ondeurdringbare laag Duck Weed van ongeveer 25mm. Dit veroorsaak weer dat geen sonlig die water kan binnedring nie en dus kan geen oksidasie plaasvind nie. Die oksidasieproses is noodsaaklik vir die verdere afbreek van vastestowwe in die water. In sommige van die damme het die totale visbevolking het reeds gevrek weens ‘n tekort aan suurstof. Visse dien as goeie aanduiders van waterkwaliteit. Al bogenoemde faktore dra uiteindelik daartoe by dat suurstofarm water ryk aan nitrate en sulfate en met groot hoeveelhede rou riool steeds daarin in die vleiland by die boorgate dreineer. Die enigste buffer teen die wesenlike besoedeling van die ondergrondse waterbronne is die bietjie plante en riete wat nog in die vleiland oor is. Dit help in ‘n baie groot mate om die rou riool verder uit die water te suiwer. Die bewaring van hierdie stukke vleiland is dus uiters noodsaaklik. Net oorkant die pad is alle plante dood weens oorbeweiding.

“Dit is net geluk dat niemand nog nie siek geword het nie,” was prof. Ben van der Waal se woorde tydens ‘n besoek by die aanleg. Prof Van Der Waal is verbonde aan die Departement Biologiese Wetenskappe by die Universiteit van Venda. Hy het ‘n ernstige vraagteken geplaas oor die kwaliteit van die water wat uiteindelik in die ondergrondse watertafels beland, aangesien die riool in die water uit die verouderingsdamme duidelik nog nie klaar verteer is nie.

“Ek dink dit is nodig om die saak indringend met die Raad te bespreek. Ek stel voor dat konsultante ingebring word om die stelsel te evalueer,” het prof. Van der Waal opgemerk.

Tydens ‘n kort gesprek met me. Faith Muthambi, munisipale bestuurder van die Makhado Munisipaliteit die afgelope week, het sy gelyk gegee dat die stelsel onvoldoende is. Sy het ook genoem dat die stelsel eers opgegradeer moes word, voor die oprigting van die tronk. Me. Muthambi het egter genoem dat die Raad talle struikelblokke in die gesig staar om die probleem aan te spreek.

‘n Lys vrae oor die aangeleentheid is verlede week aan me. Muthambi gestuur. Teen druktyd is daar nog geen terugvoer ontvang nie.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines