

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 November 2005
Die Makhado Munisipaliteit se munisipale bestuurder, me. Faith Muthambi, het vandeesweek ternouernood ontkom in ‘n ernstige motorongeluk op die pad tussen Tshakuma en Thohoyandou. Haar Mercedes Benz het digby Tshakuma teen ‘n polisievoertuig gebots.
Een polisieman is ernstig beseer en na die provinsiale hospitaal in Polokwane oorgeplaas. Nog twee is na behandeling uit die hospitaal ontslaan. Me. Muthambi het net ‘n fraktuur aan haar linkerhand opgedoen. Een van haar twee passasiers se been is gebreek. Die ander een is nie beseer nie. Haar voertuig is ‘n wrak.
Volgens omstanders het die botsing plaasgevind toe die polisievoertuig nagelaat het om by ‘n aansluiting digby die Tshakuma mark te stop.
Me. Muthambi het vandeesweek gesê dit was vir haar onmoontlik om die botsing te vermy. Daar was nie beweegruimte om uit te swaai nie en daar was nie tyd om te stop nie, omdat die voertuig net skielik van die sykant af reg voor haar in die pad verskyn het.
Sy het groot lof vir die veiligheidseienskappe van die voertuig waarin sy gery het. Sy glo die lugsakke het haar lewe gered.
“As ek in ‘n gewone voertuig gery het, was ons almal sekerlik dood.”
Die voorsitter van die Voorsittersvereniging, mnr. André Naudé, het sy skok uitgespreek oor die ongeluk en me. Muthambi spoedige beterskap toegewens.
Kapt. Mashudu Malelo van die Vhembe SAPD het bevestig dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen is.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
