

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 November 2005
Optrede teen onwettige visvangste is die afgelope weke na die Spiesdam uitgebrei en aandag word gegee aan klagtes wat ook ontvang is van gereelde grootskeepse onwettige vangste by die Albasinidam.
Beamptes sal voortaan al die vernaamste damme gereeld dophou, om die onwettige aanslag teen die varswater visbevolking vas te vat.
Altesaam ses mense is tydens twee operasies by die Spiesdam in hegtenis geneem, nadat nette van meer as 100 meter elk by die dam opgespoor is. Dit is onwettig om vis te net. Die gebruik van visnette veroorsaak groot ekologiese skade en onbeheerde netvangste kan ‘n dam se hele visbevolking uitroei, omdat daar geen beheer is oor die hoeveelheid of die grootte van die vis wat gevang word nie. Strawwe boetes word aan oortreders opgelê.
‘n Plaaslike verteenwoordiger van die Departement Omgewingsake, mnr. Tiny Sinden, het vandeesweek by navraag gesê optrede teen hierdie skadelike misdryf word voortgesit en sal na al die vernaamste damme uitgebrei word.
Die veldtog teen onwettige vissermanne het teen die middel van verlede maand ‘n hoogtepunt bereik, toe talle onwettige vissermanne by die Klein Letabadam aangekeer is en beslag gelê is op groot hoeveelhede nette, handgemaakte visspiese en ander onwettige toerusting. Boetes van R1 500 elk is aan die oortreders opgelê. Tydens die operasie is vasgestel dat die skuldiges uitsluitlik daarop uit is om met die vis handel te dryf en dat daar nie sprake is van vangste terwille van oorlewing nie.
Dit is ook onwettig om sonder ‘n permit te hengel. Elke hengelaar mag volgens wet slegs twee visstokke, dit wil sê twee vislyne met enkel hoeke, gebruik.
Selfs wettige hengelaars met permitte maak hulle ook dikwels aan verskeie wanpraktyke skuldig.
‘n Gereelde hengelaar by Albasini sê onnodige skade aan die natuurlewe word deur hengelaars by die Albasinidam aangerig, wat ondermeer bottelmerkers onverskillig in die dam agterlaat. Watervoëls raak in die vislyne verstrengel en verdrink.
Mnr. Sinden het vandeesweek gesê die departement neem kennis van die situasie by die Albasinidam en sal beslis ook daar optree.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
