

ADVERTISEMENT:

News Date: 04 November 2005
Dit lyk asof die belastingimplikasies by die verkoop van grond as gevolg van ‘n restitusie eis darem nie so ‘n donker prentjie vorm nie.
“Ons het BTW betaal volgens nulkoers en dit is in ons kontrakte bepaal dat die grond direk aan die eisergroep oorgedra word,” het een van die vrywillige verkopers van Levubu gesê, wat alreeds die eerste 50% van die uitbetaling ontvang het.
Mnr. Henning Viljoen, geoktrooieerde rekenmeester, het boere gemaan om baie versigtig te wees wanneer dit by Belasting op Toegevoegde Waarde kom. Hy het die BTW Wet, nuwe wetswysigings en toepassing daarvan deurgegaan en herinner boere daaraan om seker te maak dat hulle kontrakte die regte bepalings bevat.
“Waar die Departement die boer betaal vir die plaas, maar die plaas direk vanaf die boer oorgedra word aan die eisers, is sodanige lewering, ingevolge die bepalings … van die BTW Wet, aan die nulkoers van BTW onderhewig. Die rede hiervoor is dat die boer geag ‘n lewering aan die Departement te maak vir sover die betaling wat die boer vanaf die Departement ontvang ten opsigte van die lewering van die plaas aan die eisers is,” lui die toepassing van die wet.
Dit is dus belangrik dat die verkoper seker maak dat die kontrak bepaal dat die plaas direk aan die eisergroep oorgedra word en dat die betaling van BTW teen ‘n nulkoers aangedui is.
In die geval waar die boer die plaas egter direk aan die Departement verkoop en die Departement eienaarskap van die grond verkry, sal die verkoop ingevolge die bepalings van artikel 7(1)(a) van die BTW Wet, aan die standaardkoers (14%) van BTW onderhewig wees. Die rede hiervoor is dat daar ‘n werklike lewering van goed, naamlik die grond, deur die boer aan die Departement gemaak word. Die wetswysigings wat in April vanjaar in werking getree het, raak nie hierdie geval nie en na die wysigings sal die boer wie se plaas aan die Departement as eienaar oorgedra word, “steeds nie aan die nulkoers onderhewig wees nie”.
‘n Verduideliking van die BTW wetswysiging is deur mnr. Viljoen aangevra. Na aanleiding daarvan blyk dit dat die prentjie wat BTW aanbetref, darem nie so somber is as wat aanvanklik gemeen is nie.
‘n Heel donker belastingimplikasie is geskets tydens ‘n vergadering op 7 April vanjaar, wat die Voorsittersvereniging belê het om met die LUR van Landbou, me. Dikeledi Magadzi te praat. Me. Magadzi kon weens ‘n ander, onvoorsiene vergadering nie die afspraak kon nakom nie. Die vergadering is egter goed bygewoon. By dié geleentheid, en verskeie geleenthede daarna, het die Voorsittersvereniging by die Grondeisekommissie aangedring om ‘n omvattende en geïntegreerde implementeringsprogram met tydskedules en begrotings daar te stel.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
