ADVERTISEMENT:

 

Munisipale dienste stort ineen

 

News  Date: 11 November 2005

 

Uit met die gasstofies en waterhouers. Die ontwrigting in die krag- en watervoorsiening is nog nie op ‘n einde nie.

Die munisipaliteit het hierdie week verskoning gevra vir die ongerief van hul kliënte.

“Ons wil nie hê ons verbruikers moet ly nie,” het die munisipale woordvoerder en waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Peter Magwala, Dinsdag gesê.

Groot dele van die dorp gaan gebuk onder ernstige onderbrekings van krag- en watervoorsiening. Frustrasies en gemoedere loop hoog.

“Hierdie is nou nie meer ‘n grap nie,” het een inwoner gesê, terwyl ‘n ander een oorweeg om te trek.

Die afgelope naweek se kragonderbreking was deel van ‘n reeks van wydverspreide kragonderbrekings.

Eers was daar die muskeljaatkat wat die krag lamgelê het deur Dinsdagoggend, 25 Oktober, op die geleistamme te spring by die hoofsubstasie. Glo dit of nie, daar het weer ‘n muskeljaatkat op dieselfde tragiese manier sy dood tegemoet gegaan by die hoof substasie op Dinsdag, 1 November. Die skade het R40 000 beloop.

Die afgelope naweek se reënstorm, gepaard met weerlig en wind, het die dorp sonder krag gelaat, nadat ‘n kraglyn in die boompark afgeslaan is. Teen Sondag twaalfuur is die kragtoevoer herstel, nadat munisipale werkers onverpoosd gewerk het. Maandagaand (7de) was daar weer ‘n kortsluiting op dieselfde lyn. Mnr. Ernst Joubert en sy span het vanaf 04:30 gewerk en net na sewe is die kragtoevoer herstel.

Daar is egter nog kabelfoute op die lyn.

Volgens die munisipaliteit sal die kragtoevoer ook nog onstabiel wees totdat die skade by die hoof substasie heeltemal herstel is. Wanneer die hoof substasie herstel word, sal die hele netwerk afgeskakel word sodat die dorp ‘n dag sonder krag sal wees, maar dit sal in die media gekommunikeer word. Die munisipaliteit is nog in die proses om die nodige toerusting en onderdele vir die herstelproses te bekom.

Met die eerste muskeljaatkat is die meeste van die munisipale voorraad van onderdele en gereedskap opgebruik. Met die tweede kat is alles opgebruik. Na die naweek se weerlig is daar noodherstelwerk aan die hoof substasie gedoen, met die gevolg dat die onstabiliteit in die toevoer sal aanhou totdat die toerusting gekom het en die groot herstelwerk gedoen is.

Die onstabiele toevoer word ook veroorsaak deur kabels wat raakgekap is, die een deur kontrakteurs en die ander deur munisipale werkers. Dinsdag (8ste) is ‘n kabel by Lubners raakgekap. Mnr. Magwala het kontrakteurs gemaan om versigtig te wees. Een van die kabels is op die hoek van Vorster- en Andersonstraat raakgekap terwyl munisipale werkers ‘n waterpyp herstel het op Vrydag (4de). Die bars van hierdie groot waterpyp van 350mm in deursnee het weer die waterkrisis in groot dele van die dorp veroorsaak.

Die voortslepende waterkrisis word verder vererger deur die feit dat drie van die boorgate nie werk nie. Mnr. George Ntsundeni, assistent bestuurder van die Departement Tegniese Dienste, het gesê dat vandalisme en die diefstal van kabels die oorsaak daarvan is. Die munisipaliteit het ook erken dat die moniteringsisteem by die reservoirs al ‘n geruime tyd buite werking is. Die oorsaak is weereens vandalisme en diefstal. Die moniteringsisteem is belangrik om onmiddellik aan te dui wanneer een van die reservoirs se water begin daal. Die reservoirs word deur hierdie sisteem aan mekaar gekoppel en gee ‘n tydige waarskuwing dat waterprobleme aan die kom is. Mnr. Magwala het die publiek gevra om behulpsaam te wees om die kabeldiewe en vandale voor stok te kry.

Die druk op die watervoorsieningstelsel neem toe as gevolg van ontwikkeling. Waterpype moet ook vervang word. Tot tyd en wyl die Nandonidam se water die dorp kan bereik, sal daar seker dae wees waarop ‘n seepgesmeerde lyf sonder ‘n druppeltjie water uit die stortkop moet klaarkom. Wanneer die befondsing vir die infrastruktuur aan hierdie kant van die Albasinidam arriveer, is nog ‘n ope vraag. Daar is ‘n bedrag van R99 miljoen aangevra van die Vhembe Distriksmunispaliteit vir die nodige pypleidings wat in twee fases aangepak sal word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines