

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 November 2005
Die standbeeld van die gerespekteerde Voortrekkerleier, Louis Trichardt, het hierdie week vir die eerste keer in jare sonlig gesien nadat dit Sondagnag vanuit Fort Hendrina gesteel is.
Dit het aan die lig gekom nadat die geskokte eienaars van die Lalapanzi Hotel die beeld, gehul in ‘n swart sak, Maandagoggend op hul perseel ontdek het. Die eienaars, Marius en Inga Gilfillan, het onmiddellik die polisie en die munisipaliteit in kennis gestel.
Die beeld is redelik naby die ingangshek van die hotel gelaat, onder ‘n grasafdak waar ‘n ossewa uitgestal word.
By die beeld is twee notas gelaat. Die een het gelui: “My naam heet Louis Trichardt. Ek is sommer sonder oortreding opgesluit. Ek vra om respek. Plaas my op die regte plek!” Die nota het ook ‘n waarskuwing bevat dat die persoon wat sy geskiedenis versaak, gedwing sal word om dit te herleef. Die ander nota het ‘n versoek bevat asook ‘n strofe uit die ou volkslied: “Aan my eie mense by my nuwe rusplek. Pas my asseblief mooi op! Die erwe van ons vaders vir ons kinders erwe bly …”
Marius en Inga het die oggend verby die ossewa gestap, toe Inga die swart sak, met die hout wat onder uitsteek, raaksien.
“Ek het gewonder of dit die houtblaaie vir die buffet is wat ons bestel het en waarom die persoon dit sommer hier buite neergesit het,” sê Inga. Marius het egter die swart sak afgetrek en verbaas gesê: “Haai, hier is Paul Kruger? Wat soek hy hier?” Die Gilfillans bedryf ook die Lalapanzi Museum met verskeie waardevolle historiese items, meestal vanuit die Anglo Boereoorlog. By nader aanskoue het Inga besef dat dit die beeld van Louis Trichardt is. Onder ander omstandighede sou dit ‘n waardevolle toevoeging tot die museum kon wees, maar hierdie beeld behoort aan die munisipaliteit.
Die berging van die standbeeld van Louis Trichardt in Fort Hendrina was die afgelope paar jaar ‘n kwessie van groot omstredenheid. Nadat die standbeeld vanuit sy plek in die voorportaal van die burgersentrum verwyder is, het dit in Fort Hendrina geland waar dit, volgens die munisipaliteit, “veilig en versorg” sou wees.
Volgens die polisie is die slot by Fort Hendrina waarskynlik afgesaag, die beeld verwyder en ‘n ander hangslot aangesit. Die polisie was hierdie week besig met hulle ondersoek. By die toneel waar die beeld gelaat is, het die modder van die reënstorm die vind van spore bemoeilik, asook die feit dat daar reeds oor die spore met voertuie gery is.
Die waarnemende munisipale bestuurder, mnr. Peter Magwala, het Dinsdag ‘n persverklaring uitgereik waarin die munisipaliteit die manier waarop die standebeeld vanaf Fort Hendrina na Lalapanzi Hotel verwyder is, veroordeel.
“Ons beskou die manier as suiwer diefstal wat deur die polisie ondersoek moet word,” lui die verklaring. Die munisipaliteit het ‘n saak van diefstal, huisbraak en onwettige besit van die raad se bates oopgemaak. “Die munisipaliteit beskou die standbeeld as ‘n waardevolle bate van die Raad wat nie vernietig of verwyder kan word vanaf raadseiendom sonder enige toestemming nie,” sê mnr. Magwala. Die Raad sal nog die toekomstige plek vir die waardevolle standbeeld bespreek om ‘n behoorlike en ingeligte besluit te kan neem, lui die verklaring. Daar word ook ‘n beroep gedoen op die publiek om enige inligting rakende die diefstal aan die polisie te verskaf. Teen druktyd was daar nog geen arrestasies in verband met die voorval nie.
Die voorsitter van die Voorsittersvereniging, mnr. André Naudé, het gesê dat die komitee glad nie akkoord gaan met die onwettige optrede van die diefstal van die beeld nie.
“Dit is glad nie versoenend nie en die reg kan ook nie in eie hande geneem word nie. Die komitee het reeds ‘n vergadering belê met die burgemeester. Die VV staan ‘n beleidsdokument vir die gelyke behandeling van alle kulture se kulturele simbole voor,” het mnr. Naudé gesê.
Hierdie belangrike kulturele simbool se kuier by die Lalapanzi Hotel was egter van korte duur. Voor sononder Maandag, het die beeld van Louis Trichardt hom in ‘n volgende wegsteekplek bevind. Waar, wil die munisipaliteit nie sê nie.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
