

ADVERTISEMENT:

News Date: 11 November 2005
Die welkome stortreën die afgelope naweek is met groot dankbaarheid ontvang, ten spyte van die skade wat plek-plek deur die storm aangerig is.
Inwoners van die streek het met groot afwagting die aankomende gedonder en geblits beskou en daar was vreugde oral oor toe die sluise van die hemel uiteindelik, na maande se knellende droogte en weke se versengende hitte, geopen het.
Op Makhado (Louis Trichardt) het die munisipale reënmeter op 7 November op 67mm gestaan. ‘n Verder 2mm is die daaropvolgende twee dae gemeet.
Maar dit was die naweek se stortreën wat vir baie broodnodige verligting gebring het en ook veroorsaak het dat die Albasinidam sedert die naweek met amper twee persentasie punte gestyg het. Die damvlak op 7 November was 37,95%.
Ook agter die Soutpansberg is goeie neerslae gerapporteer, in so ‘n mate dat die Sandrivier vir die eerste keer in drie jaar weer begin loop het. Op Waterpoort is byna 50mm reën gemeet en in Alldays se rigting is tussen 50mm en 60mm gemeet.
Suid van die Soutpansberg is 113mm by Bandelierkop gemeet, en boere in die Levubu-omgewing jubel oor die tussen 70mm en 90mm wat daar gemeet is.
“Almal is innig dankbaar vir die wonderlike, welkome reën,” het mnr. Gideon Meiring van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie opgemerk.
Alhoewel die hewige donderstorm die afgelope naweek plek-plek skade aangerig het, het menige inwoners dit beskryf as “dankbare skade”. Daar was egter ook tragedie, met twee tienerseuns wat Maandagmiddag in die Sandrivier verdrink het naby Kutama. Met die rivier wat skielik afgekom het, het die seuns besluit om bietjie te gaan swem.
Die vlak van die ander vernaamste damme in die streek op 7 November was die Thate Vondo Dam (62,26%), Nzheleledam (33,47%), Luphephedam (40,58%) en die Nwanedidam (30,90%).
Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

ADVERTISEMENT:
