ADVERTISEMENT:

 

SAVF gaan dienssentrum verkoop

 

News  Date: 11 November 2005

 

Die Dienssentrum van die Suid-Afrikaanse Vroue Federasie (SAVF) is reeds in die proses om verkoop te word, maar alle plaaslike dienste van die SAVF sal onverpoosd voortgesit word.

Die verkoping van die sentrum word genoodsaak deur die hoë instandhoudingskoste van die gebou en maandelikse tekorte op die lopendebedryfskoste van die SAVF se maatskaplike dienste.

Die streekbestuurder van die SAVF, mev. Erna du Toit, het by navraag bevestig dat die verkoopsproses aan die gang is. Verskeie aanbiedings is ontvang en die hoogste aanbod is reeds aanvaar. Die verdere koopproses mag dalk nog etlike maande duur voordat dit finaal afgehandel is.

“Ons beoog om die bedrag uit die verkope van die sentrum vas te belê om ons in staat te stel om die bestaande tekort van R7 000 op ons bedryfskoste aan te vul. Ons beplan om al ons bestaande dienste hier voort te sit.”

Onderhandelings om die dienste op alternatiewe persele nader aan die onderskeie kliënte te bring is reeds ver gevorder. Die SAVF is ook aktief betrokke by onderhandelings vir verskeie samewerkingsooreenkomste op die gebied van maatskaplike dienste, bejaardesorg en materiële noodhulp.

Oor die verkoop van die sentrum sê mev. Du Toit die instandhouding van die gebou het eenvoudig te duur geword. Daar is gereeld skade aangerig deur inbrekers, terwyl die maandelikse uitgawes aan assuransie, munisipale rekeninge en algemene instandhouding finansiële middele opslurp wat nuttiger vir praktiese dienslewering aangewend kon word. Daar gaan nou gepoog word om dienste nader aan teikengroepe te bring.

Onderhandelings is reeds met die CMR (Christelike Maatskaplike Raad) aangeknoop om die maatskaplike kantore by die AGS-kerk in Munnikstraat te benut.

“Dit sal hierdie diens heelwat nader aan ons kliënte bring,” het mev. Du Toit gesê. Onderhandelings is ook aan die gang om die bejaardesorg komponent te verskuif na ‘n perseel wat nader aan Ons Tuiste is.

Die grond vir die oprigting van die sentrum is indertyd deur die plaaslike munisipaliteit aan die SAVF geskenk. ‘n Voorwaarde dat die perseel aan die munisipaliteit sou terugval indien die SAVF dit nie meer vir die oorspronklike doel benut nie, is deur onderhandelings opgehef. Die Staatslening vir die oprigting van die gebou is ook reeds verdiskonteer. Die Stadsraad en ander belanghebbendes is betrokke by onderhandelings om ‘n bestaande grondeis op die perseel te hanteer.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines