ADVERTISEMENT:

 

Van links is mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging, die burgemeester, Raadslid Rhulani Nkuzana, mev. Inga Gilfillan en mnr. Peter Magwala (waarnemende munisipale bestuurder). Mev. Gilfillan en mnr. Magwala is aangewys as die taakspan wat die voorstel oor die standbeeld van Louis Trichardt en ander kultuurhistoriese simbole vir voorlegging aan die Uitvoerende Komitee van die Munisipaliteit moet gereedmaak.

"Oom Louis" se beeld gaan ereplek kry

 

News  Date: 18 November 2005

 

Die borsbeeld van Voortrekkerleier Louis Trichardt gaan in ere herstel en weer permanent aan die publiek sigbaar gemaak word.

Die beeld het verlede week op dramatiese wyse die brandpunt geword van ‘n “koue oorlog” oor standbeelde op ‘n dorp wat met sy stigting na die belangrike historiese figuur Louis Trichardt vernoem is. ‘n Spesiale komitee is aangestel om wyd te raadpleeg en die munisipaliteit se Uitvoerende Komitee met ‘n sinvolle voorstel te dien oor die geskikste ere-staanplek vir die Louis Trichardt borsbeeld.

Die spesiale komitee is verlede week aangewys, na ‘n dringende vergadering met die burgemeester. Die vergadering is aangevra deur die Voorsittersvereniging om die ernstige spanning en toenemende polarisasie in verband met standbeelde op die dorp te ontlont. Dit volg op die vroeëre verwery van die Makhado standbeeld by die toerisme inligtingsentrum, ‘n vlaag van verwery op padtekens en die jongste verwikkeling, waarin die verwaarloosde borsbeeld van Louis Trichardt een oggend op die terrein van die Lalapanzi museum ontdek is, nadat dit vermoedelik die vorige nag deur onbekende persone uit Fort Hendrina verwyder is.

Die beeld, tesame met verskeie ander belangrike kultuurhistoriese kunswerke, is etlike jare gelede onseremonieel uit die burgersentrum verwyder, die dag nadat die vorige burgemeester die omstrede aankondiging oor die dorp se naamsverandering gemaak het. Die beeld is buite sig binne Fort Hendrina toegesluit, waar dit, tesame met sy hardehout voetstuk, onlangs in ‘n toestand van verwaarlosing aangetref is.

Tydens verlede week se vergadering met die burgemeester, rdl. Rhulani Nkuzana, waarop die hele aangeleentheid op die spits gedryf is, is dit duidelik gestel dat die hantering van die borsbeeld en die historiese kunswerke heeltemal onaanvaarbaar is. Rdl. Nkuzana is daarop gewys dat die verwydering van die kultuursimbole strydig is met die uitdruklike bepalings van die Grondwet en Handves van Menseregte, wat aan alle mense die basiese reg toesê om hul kultuur te kan “geniet en te bevorder”. Die munisipaliteit se optrede, om die belangrike kultuurvoorwerpe eensydig te verwyder en buite sig weg te sluit, is beskryf as ‘n uitdruklike aantasting van die basiese regte van die betrokke kultuurgemeenskappe. Die voortgesette onsigbaarheid van die kultuurgoedere kom dus neer op ‘n voortgesette onreg, wat in wese krimineel van aard is, omdat dit ‘n basiese mensereg wederregtelik ontneem. Rdl. Nkuzana is op die vergadering beleefd versoek om die optrede van sy voorganger, wat waarskynlik die gevolg was van onkunde oor die werklike historiese bydrae van die man Louis Trichardt, onverwyld reg te stel.

Die Voorsittersvereniging het in ‘n omvattende voorlegging gewys op die belangrikheid van ‘n amptelike beleid ten opsigte van standbeelde, wat ewewigtig voorsiening sal maak vir die behoeftes van alle betrokke kultuurgroepe.

Mnr. Peter Magwala (waarnemende munisipale bestuurder) het voorgestel dat die Louis Trichardt borsbeeld en ander kultuurvoorwerpe deur die munisipaliteit in veilige bewaring gehou moet word, totdat ‘n amptelike beleid geformuleer kan word. Die vergadering het egter besluit dat die onmiddellike sigbaarheid van die kultuurgoedere van die opperste belang is en dat 'n spesiale komitee vandeesweek reeds aanbevelings aan die Raad se Uitvoerende Komitee moet maak oor wyses waarop die aangeleentheid reggestel kan word.

Op die vergadering het die eienaars van die Lalapanzi museum, mnr. en mev. Gilfillan, aangedui dat die beeld heeltemal welkom sal wees om by Lalapanzi ‘n staanplek te kry, as daar amptelik so besluit word. Die burgemeester het aangedui dat daar ook ‘n versoek was dat die Louis Trichardt borsbeeld vir bewaring na die Voortrekkermonument in Pretoria moet gaan.

Nog ‘n moontlikheid, wat op die vergadering deur ds. Willem Boshoff van die Louis Trichardt N. G. Gemeente geopper is, is dat die beeld by die Geloftekerk op die dorp ‘n staanplek kry. Dit kan reg voor die kerkgebou aan die straatfront, regoor die burgersentrum, opgerig word of saam met die historiese skilderye in die voorportaal van die Ferdie Beyerssaal staangemaak word. Die gemeente vier volgende jaar sy eeufees.

‘n Skrifstuk, waarin die unieke historiese bydrae van Louis Trichardt, tesame met dié van die Venda-koning Ramabulana en die Buyse in perspektief gestel word, is op die vergadering aangehaal. Afskrifte van die skrifstuk is aan die burgemeester, die waarnemende munisipale bestuurder en aan lede van die spesiale komitee besorg.

In die skrifstuk, opgestel deur plaaslike historikus Pieter F. Botha, ten tyde van die dorp Louis Trichardt se eeufees in 1999, word verwys na die historiese ontmoeting by die Soutpansberg en die “Godgegewe vriendskap, lojaliteit, onderlinge afhanklikheid en toewyding tussen die Venda koning Ramabulana, die Voortrekkerleier Louis Trichardt en die Buys bevolking van die Soutpansberg, wat beskou kan word as die emosionele geboortemoment van die Nuwe Suid-Afrika, en selfs van die Nuwe Afrika van die toekoms.”

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines