

ADVERTISEMENT:

News Date: 13 August 2004
MAKHADO (LOUIS TRICHADRT) - Na ‘n moedige stryd teen bloedkanker, is klein Stephan du Plessis op Saterdag, 7 Augustus, oorlede.
Stephan, gebore op 14 Desember 1993, is in November 2002 met leukemia gediagnoseer. Tot op die einde het Stephan ‘n glimlag op sy gesiggie gehad, altyd positief gebly en nooit moed opgegee nie.
“Mamma moenie bekommerd wees nie, ek gaan gesond word,” het hy sy ma gerusgestel wanneer sy in die nag by hom gewaak het en hy gesien het haar gesig lyk bekommerd.
“Vandag is hy gesond en het hy geen pyn meer nie,” sê ma Lizette en ‘n sagte glimlag huiwer om haar mondhoeke wanneer sy aan haar liefdevolle kind terugdink.
Stephan, sy ma en sy sussie het vanaf Ellisras by oupa en ouma Nic en Hettie van der Westhuizen ingetrek, sodat hulle kon help met sy versorging. Die gemeenskap van Louis Trichardt het onmiddellik hart en hande oopgemaak en gehelp met fondsinsamelings vir klein Stephan.
Stephan was twee maal heeltemal skoon van kanker en hy het twee terugvalle beleef. Intussen was hy fluks besig met tuisskoling. Vandat hy aan die begin van Mei permanent op die dorp kom woon het, was hy skoon van kanker tot aan die begin van Julie, toe ‘n beenmurgtoets gewys het dat die kanker weer terug was. Chemoterapie is vanuit die VSA ingevoer aangesien Stephan al weerstand teen die plaaslike chemoterapie opgebou het.
Die laaste twee weke saam met Stephan is vir altyd ingeëts in die geheue van Hettie, wat intens by haar kleinseun betrokke was.
“Donderdag, 29 Julie is Stephan nog skou toe om ‘n bietjie daar rond te loop. Saterdagaand het ons in Leeustraat gaan stop, sodat hy na die vuurwerkvertoning kon kyk. Hy het dit so geniet. Sondag, die eerste, was daar ‘n groot diens by die kerk, maar Stephan kon nie gaan nie. Die Sondagskool was altyd vir hom ‘n louter vreugde. Hy was altyd so ‘n voorbeeld. Almal het gepraat oor die liefdevolle kind se wonderlike maniere en hoe hy met mense kon kommunikeer,” sê Hettie.
Tydens die betrokke diens het Stephan se ma, sy oupa Nic en sy oom Nico uit die kerk kom haal om bloedplaatjies in Polokwane te gaan haal. Hy het daardie week drie maal bloedplaatjies gekry, maar sonder sukses. Teen Vrydag (6de) het Lizette geweet.
Saterdagmiddag om 16:00 het pa Marius en ma Lizette met Stephan Pretoria toe gejaag, maar het nie verder as Polokwane gekom nie. In die hospitaal daar het hy sy laaste asempie uitgeblaas. Dit het gelyk of hy net vir oupa Nic ouma Hettie gewag het om aan te kom.
Stephan du Plessis (10 jaar en 9 maande) word Saterdag, 14 Augustus, om 09:00 begrawe vanuit die Ou Apostoliese Kerk in Afrika in Kroghstraat. Hy laat sy vader, Marius, moeder, Lizette en sussie, MariLette (6) agter.
Die familie bedank almal wat met die lyste en kalenders omgegaan het om geld vir Stephan in te samel en almal wat donasies gegee het om die kostes te help dek. Hulle sê ook dankie aan almal wat gehelp en bemoedig het, veral Lizeby Fernandez en die Sonskyn Ondersteuningsgroep van die kankervereniging, mev. Retha Serfontein, die kerkgenote, dr. Malan en Du Buissons.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
