ADVERTISEMENT:

 

Willie Erasmus (links) en Danie Deysel (regs) wat ook gearresteer en toegesluit is op suspisie dat hulle iets te doen gehad het met die verf van die Makhado-standbeeld en van padtekens. Hulle moes ‘n hele naweek in die polisieselle op Dzanani deurbring, net om die daaropvolgende Maandag weer vrygelaat te word.

"As jy blank is het jy moeilikheid"

 

News  Date: 25 November 2005

 

“As jy blank is, het jy moeilikheid!” So sê die 40-jarige mnr. Willie Erasmus, nadat hy en die 48-jarige mnr. Danie Deysel vir ‘n hele naweek lank op Dzanani toegesluit is op blote suspisie dat hulle moontlik betrokke sou wees by die omstrede verwery van padtekens en die standbeeld van Makhado.

Die arrestasie en aanhouding van die 24-jarige Dieter Venter verlede week op soortgelyke “klag” is verlede maand voorafgegaan deur die arrestasie van Willie en Danie. Die twee het hul storie met die Zoutpansberger gedeel.

Danie en Willie vertel dat hulle voertuig op Vrydag, 14 Oktober, naby die Makhado-naambord op die N1 na Musina net buite die dorp onklaar geraak het. Binne oomblikke het die polisie op hulle toegesak. Hulle is gearresteer en, soos in Venter se geval, sonder verwyl na die polisiestasie op Dzanani geneem waar hulle summier toegesluit is. Beide Danie en Willie sê die polisie het hulle toegang tot ‘n regsverteenwoordiger geweier, asook die geleentheid om ‘n borgaansoek te bring. Hulle kon ook nie kontak maak met familie nie.

Die twee is in afsonderlike selle aangehou tussen, soos Willie sê, rowwe ouens. Dit was die begin van drie dae van hel in die selle.

Saterdag (15de) is beide Willie en Danie deur speurders ondervra oor hul moontlike betrokkenheid by die verf van die Makhado-standbeeld en die kleure van die ou landsvlag op padtekens. Steeds is hulle nie formeel aangekla nie en steeds is hulle toegang tot ‘n regsverteenwoordiger geweier. Weer moes hulle ‘n aand in die selle vertoef.

“Die speurders het ons gevra of ons enige regse konnotasies het en wat ons dink van die naamsverandering,” vertel Willie. Intussen het die polisie hul huise gaan deursoek vir moontlike “leidrade” maar kon niks vind nie.

Willie sê dat daar eers Sondag ‘n string formele klagtes teen hulle gelê is, waarvan nie een verband gehou het met die verfsage nie. Steeds is hulle toegang tot ‘n regsverteenwoordiger geweier en weer moes hulle ‘n aand in die selle deurbring.

Teen Maandag (17de) het Danie en Willie se arrestasie onder die aandag gekom van die plaaslike Regshulpraad. Hulle het eindelik Maandagmiddag in die plaaslike landdroshof op Makhado (Louis Trichardt) verskyn, waartydens al die klagte teen Willie teruggetrek is. Al die klagte is ook teen Danie teruggetrek, behalwe een van die besit van 4g dagga, waarop hy skuldig gepleit het.

“Ek kan nie verstaan waarom ons vir die naweek toegesluit moes word nie,” sê Danie.

“Die bottom line is dat die mense se konstitusionele regte verkrag word,” was mnr. Montey Viljoen, ‘n regsverteenwoordiger van die Regshulpraad wat namens Danie en Willie optree, se kommentaar. “Van die oomblik wat ‘n persoon gearresteer is, het hy onmiddellik die reg op regsverteenwoordiging,” voeg hy by. Hyself plaas ook ‘n vraagteken oor die polisie se politieke motiewe in die saak en sê dat siviele aksie teen die polisie sal volg ten opsigte van onregmatige arrestasie en aanhouding.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines