ADVERTISEMENT:

 

Polisie kon moord verhoed het, sê TLU

 

News  Date: 25 November 2005

 

Die moord verlede Saterdag op mnr. Willie (Billy) Meyer van Vivo kon verhoed gewees het as die SAPD op Mara twee weke gelede die inbraak by sy huis ernstig opgeneem en moeite gedoen het om die skuldige te vang, sê mnr. Dries Joubert, voorsitter van die TLU SA Noord.

Die moordenaar het ten tyde van die moord ‘n rugsak op sy rug gedra, wat twee weke gelede van een van die kinders gesteel is.

Joubert sê aanhoudende klagtes oor ‘n lang tyd oor die swak diens van die SAPD op Mara moet nou aandag geniet. Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat lede van die SAPD Maandagoggend so laat op die toneel opgedaag het. Hy het kommer uitgespreek, omdat dit wil voorkom asof die SAPD op Mara nie misdaad onder beheer wil kry nie. Hy het gevra dat daar dringend na die dienslewering by die polisiestasie gekyk word.

“Die SAPD het in hordes onmiddellik opgedaag na die verf van die Makhado beeld, waar geen lewensverlies betrokke was nie, maar blykbaar minder erns getoon om die moordenaar van ‘n wetsgehoorsame burger op te spoor.”

Joubert spreek in ‘n mediavrystelling sy skok en hartseer uit oor die koelbloedige moord op mnr Meyer. Hy het sy medelye met mev. Meyer en haar kinders uitgespreek. Hy het weereens gewaarsku dat plaasmoorde goed beplan word.

“Die Meyers was Saterdagmiddag laat rustig by die huis. Mnr. Meyer het met sy agt-maande oue baba op sy skoot gesit en televisie kyk. Mev. Meyer was besig om kos te maak. Die moordenaar het by die kombuisdeur ingestap, haar na die sitkamer gedwing en toe mnr. Meyer wou opstaan, hom beveel om te bly sit. Sonder seremonie het hy mnr. Meyer in die kop geskiet, omgedraai, mev. Meyer se handsak gevat en doodluiters uitgestap.”

Joubert het die steungroepe en ander gemeenskapsgroeperings bedank vir hul ongelooflike optrede die naweek. Die steungroepe van Vivo, Waterpoort, Alldays, Louis Trichardt, Levubu, Witvlag en selfs Bandelierkop het almal saam gehelp. Lede het paaie afgesper en sommige het ook die honde-eenheid bygestaan om die spoor te volg. Lede van die gemeenskap was ook Maandagoggend eerste op die toneel om verder te help.

Twee private helikopters is vir die soektog na die boosdoener gratis beskikbaar gestel deur dr. Johan Venter en mnr. Brink Schlesinger. Die helikopters was vir nagenoeg agt ure in die lug. Die koördineerder van die steunkring aksie, mnr. Japie van der Goot, voorsitter van Bo-brak (Vivo) Boerevereniging, sê dis ongelooflik hoe die gemeenskap gereageer het. In een stadium was 80 steunkringlede betrokke by ‘n agtervolgingsaksie wat oor nagenoeg 200 kilometers gestrek het.

Joubert het gesê die moord bewys finaal dat die gemeenskap nie veiligheid kan delegeer nie. Dit is die derde aanval in die betrokke gebied. Hy het mense aangemoedig om dringend die veiligheidskursusse van die TLU SA Noord by te woon.

Die SAPD het by navraag gesê verskeie polisie-eenhede het aan die soektog deelgeneem. Dit sluit die Area Misdaadvoorkomingseenheid, die honde-eenheid, en die eenheid vir ernstige geweldmisdaad in.

Mnr. Meyer se begrafnis vind plaas op Donderdag, 24 November, om 11:00 vanuit die AP Kerk Die Meer in Polokwane.

Die familie van die oorledene sê dankie aan al die boere en die hele gemeenskap vir die ondersteuning en bystand tydens die soektog na die verdagte.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines