ADVERTISEMENT:

 

Tydens ‘n vergadering tussen rolspelers is kop gekrap oor die pad vorentoe met die standbeeld van Louis Trichardt. ‘n Paar van die rolspelers het vir ‘n foto geposeer. Van links is rdl. Florence Rumani, mnr. Victor Netshia van SAHRA, mnr. André Naudé, voorsitter van die Voorsittersvereniging, dr. Phillip Venter van die NG Kerk Soutpansberg en Raadslid Takie Makananisa, voorsitter van die vergadering. Agter, in die middel, is mnr. Peter Magwala.

"Oom Louis" se standbeeld gaan plek by biblioteek kry

 

News  Date: 25 November 2005

 

Die kwessie rondom die borsbeeld van Voortrekkerleier Louis Trichardt het hierdie week ‘n nuwe wending geneem toe aangekondig is dat die standbeeld tydelik in die munisipale biblioteek vertoon sal word.

Dit volg nadat die verteenwoordiger van die Makhado Munisipaliteit ernstig teruggekrabbel het op die positiewe verstandhoudings wat bereik is op ‘n vergadering wat die Voorsittersvereniging (VV) op 9 November met die burgemeester gereël het. ‘n Taakspan bestaande uit mnr. Peter Magwala van die munisipaliteit en mev. Inga Gilfillan van die VV is op die vergadering aangewys om pertinente aanbevelings te maak vir die tussentydse plasing van die beeld, totdat ‘n langtermyn beleid ten opsigte van standbeelde geformuleer kan word. Die komitee het onder meer aanbeveel dat die beeld teen 18 November voorlopig in die voorportaal van die Geloftekerkgebou (N.G. Kerk Louis Trichardt-gemeente) opgerig moet word.

‘n Belangrike opvolgvergadering tussen die onderskeie rolspelers het Maandag (21 November) amper op ‘n dooiepunt uitgeloop en rolspelers in die vergadering het gevoel dat daar net in sirkels beweeg word. Uiteindelik is daar besluit op ‘n werkswinkel rondom die Erfeniswet en ‘n ooreenkoms wat opgetrek moet word deur bemiddeling van die Suid-Afrikaanse Erfenisbronne Agentskap (SAHRA). Die werkswinkel en die ooreenkoms moet beide afgehandel wees teen Vrydag, 2 Desember.

Sommige lede het tydens Maandag se opvolgvergadering met skok geluister toe SAHRA se streeksbestuurder, mnr. Victor Netshia, sê die naam van die NG Kerk Louis Trichardt is nie ‘n geldige naam nie en dat dit Makhado behoort te wees. Dr. Phillip Venter het verduidelik dat dit een van die twee NG-gemeentes se naam is, waarna die voorsitter van die vergadering, rdl. Takie Makananisa, die situasie ontlont het.

Dit is aan die vergadering gestel dat die Erfeniswet tans oortree word deur die munisipaliteit en dat ‘n kriminele klag gelê sou kon word.

Na afloop van die vergadering het dr. Phillip Venter gesê dat die vergadering ‘n gevoel van onvergenoegdheid gelaat het. Mev. Gilfillan het Dinsdag ‘n sterk-bewoorde mediaverklaring uitgereik waarin gevra is vir “respek vir alle mense se kultuurhistoriese erfenis.”

“Die voortgesette onsigbaarheid van die kultuurgoedere kom neer op ‘n voortgesette onreg wat in wese krimineel van aard is, omdat dit ‘n basiese mensereg wederregtelik ontneem,” lui die verklaring. In reaksie hierop het mnr. Magwala Dinsdagaand gesê dat die borsbeeld van Louis Trichardt teen Woensdag (23ste) in die openbare biblioteek deur die publiek besigtig sal kan word.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines