ADVERTISEMENT:

 

Generic image

Agri Limpopo verwelkom uitspraak oor grondeise

 

News  Date: 04 August 2016

 

Agri Limpopo het die Grondwetlike Hof se uitspraak verwelkom dat die Wysigingswet op die Restitusie van Grondregte van 2014, wat die grondeiseproses opnuut vir vyf jaar oopgestel het, ongrondwetlik is.

“Die restitusiewet is ‘n goeie een. Dis vanweë die uiterste swak toepassing daarvan, met halfgebakte prosedures en chaotiese administrasie wat Agri Limpopo in 2006 reeds gekla het dat die gronseiseproses naas die Anglo Boere-oorlog die mees vernietigende impak op landbou gehad het,” het Agri Limpopo in ‘n verklaring gesê.

Ondanks herhaaldelike versoeke, sê Agri Limpopo, kon die Grondeisekommissie in die 18 jaar ná die sluiting van die eerste ronde steeds geen volledige lys van grondeise gee nie, en het hulle duidelik nie ‘n benul van wat nog uitstaande is nie. “Onafgehandelde eise skep omvattende onsekerheid onder grondeienaars, wat broodnodige belegging op plase demp en werkskepping in die wiele ry. Tussen 2004 en 2008 het grondeise 36 000 werkgeleenthede in Limpopo vernietig, en ‘n slagveld van mislukte, gestroopte en verwaarloosde plase agtergelaat,” het Agri Limpopo gesê.

Agri Limpopo het gesê dat, ten spyte van ‘n onderneming wat die grondeisekommissie in September 2014, tydens die Limpopo Transformasiekongres, aan Agri-Limpopo gegee het om eise te ontlys wat jare lank al in die Staatskoerant gelys is, maar nie deur die staat gekoop gaan word nie, het dit steeds nie gebeur nie. “Die aantal grondeise wat in 1998 ontvang is, het op ‘n onverklaarbare wyse van 63 000 tot 79 000 aangegroei. Een eis kan soos in die geval van die Makgoba-eis in Tzaneen 765 plase behels, of in die Maupa-eis in Mooketsi 226 plase affekteer,” het Agri Limpopo gesê.

Volgens Agri Limpopo was die besluit in die aanloop tot die 2014 Algemene Verkiesing om die grondeise-proses te heropen, ‘n goedkoop politieke foefie wat landbou baie duur te staan kom. “Meer as 170 000 eise is reeds ingestel, baie daarvan op plase waar onafgehandelde eise reeds voor 1998 in die eerste ronde ingestel is,” het Agri Limpopo gesê. Hulle het bygevoeg dat onbestuurbare verwagtinge geskep is onder arm landelike gemeenskappe, sonder dat daar ooit in die begroting voorsiening gemaak is vir die aankoop van grond om die beloofde teikens te haal. “Die destabiliserende impak van teleurgestelde verwagtinge het direkte gevolge vir die veiligheid van boere op hul plase,” het Agri Limpopo gesê.

Tans is Agri-Limpopo aktief betrokke by die implementering van die grondhervormingsmodel van Hoofstuk 6 van die Nasionale Onteieningsplan. Agri-SA het ook sy verbintenis tot die model by sy laaste kongres herbevestig. “Boere in Limpopo glo dat die model veel groter potensiaal het om suksesvolle grondhervorming teweeg te bring, en hoop dat die Grondwethof se uitspraak die destruktiewe gevolg van die heropening van grondeise finaal sal nekomdraai,” het Agri Limpopo gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines