ADVERTISEMENT:

 

Wyle Anna Maria van Zyl (78).

Hartseer vaarwel aan vriendelike Anna van Zyl

 

News  Date: 05 August 2016

 

Familie en vriende het die afgelope week met hartseer afskeid geneem van die geliefde en beminde Anna van Zyl wat op 26 Julie in die ouderdom van 78 jaar oorlede is.

Gebore op 23 Januarie 1938 het Anna in Junie 1967 met haar Morris Mini na die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) gery, waar sy ‘n aanstelling as matrone aanvaar het by die Eros Kinderhuis in Windhoek. Hier het sy haar lewensmaat en man, Gert, ontmoet wat reeds jare lank sonder vergoeding bemoeid was met welsynswerk onder ouerlose kinders.

In Januarie 1968, terwyl Anna en Gert op die grasperk voor die kinderhuis in Windhoek na die Skrikkeljaarsvieringe gesit en kyk het, het Anna vir Gert gevra om te trou.

Die egpaar is op 26 Oktober 1968 in Windhoek in die huwelik bevestig deur ds. P. A. Van Rooyen, ‘n predikant van Bredasdorp. Anna was die vierde De Wet suster wat deur ds. Van Rooyen getroud is. Twee-en-sestig tehuiskinders, saam met ander gaste, het die huwelikseremonie bygewoon. Anna en Gert se eerste kind het hulle op vroeë ouderdom aan die dood afgestaan, waarna nog twee kinders, Amelia en Andries, vir die egpaar gebore is.

Deur Namibië, Angola, die Okavango (waar Amelia en Andries gebore is), asook die Limpopo het die gesin saam met Gert die hengel- en jagvelde deurtrap. Anna het bekend gestaan as ‘n puik bakster en kleremaakster. Sy het talle trou- en aandrokke gemaak, onder andere agt aandrokke vir vroue tydens ‘n besoek van oud-minister Pik Botha aan Rundu in die Okavango.

Anna was bekend vir haar vriendelikheid en vredeliewendheid, waarvan kosbare staaltjies vertel kan word. So het ‘n man een keer by Gert en Anna se woonstel in Windhoek opgedaag en gedreig om Gert te skiet weens ‘n geskil. Terwyl Gert by die deur planne gemaak het om die man op te frommel, het Anna die man meegedeel dat hy besope is en eerder moet inkom vir ‘n koppie koffie, sodat die geskil op vredevolle wyse uitgesorteer kon word. Die koffie het gewerk.

Die familie het gedurende die vroeë tagtigerjare na Louis Trichardt verhuis. Hier het Anna en Gert vinnig ingeskakel in die gemeenskapsaktiwiteite. So was hulle een van die eerste egpare wat gesamentlik op die kerkraad van die NG Kerk Soutpansberg gedien het – Gert as ouderling en Anna as diaken. As diaken was Anna nie net diensbaar in die kerk nie, maar ook in die gemeenskap. Sy het ‘n groot hart en simpatieke oor gehad en het altyd gestrewe om mense in nood by te staan. Sy was in haar jonger dae ook aktief betrokke by die plaaslike Suid-Afrikaanse Vrouefederasie.  

Die afgelope paar jaar het Anna begin sukkel met Alzheimer se siekte. Die laaste paar weke was haar liggaam veral deurtrek van pyn waaroor sy aanhoudend gekla het. ‘n Week voor haar dood kon sy nie meer praat nie en het gesukkel om te eet. Drie dae voor haar dood het die familie besef sy is besig om te sterf en kon hulle met die Genade van Bo vir ma Anna groet. Sy is om 23:00 op Dinsdag, 26 Julie, by Ons Tuiste Ouetehuis oorlede waar sy die afgelope twee jaar ‘n inwoner was.

Vir Gert was dit die uitkoms deur die Allerhoogste voorsien. “My liefste vrou. Jou spore lê orals om ons rond. Familiespore in die helder oggendstond. O Heer, vat haar aan die hand en lei haar veilig van hier na die ander kant,” was Gert se groetwens aan sy eggenote en lewensmaat van 47 jaar.

“Dit is altyd moeilik om binne die beperkinge van ‘n beriggie in die koerant vir mense te vertel watter wonderlike persoon ‘n geliefde was met hul afsterwe. Baie wil graag vir hul geliefdes monumente bou wanneer hulle dood is. Ma het in lewe haar monumente gebou. Van oral oor, deur alle kleurgrense, is ons as familie oorval met boodskappe van medelye en vertroosting – ‘n mooi getuienis aan ‘n vrou wat op haar stil, vriendelike wyse soveel lewens ten goede aangeraak het,” het seun Andries gesê.

‘n Roudiens vir wyle Anna vind Vrydag, 5 Augustus, om 11:00 plaas vanuit die NG Kerk Soutpansberg-gemeente in Louis Trichardt. Sy word oorleef deur haar man Gert, dogter Amelia (met skoonseun Henri en kleinkind GP) en Andries (met skoondogter Ria en kleinkinders Marno en Karla). 

“Baie dankie aan Ons Tuiste vir die versorging van ma, soms onder moeilike omstandighede weens haar siekte. Dankie  ds. Etienne van Staden vir die gereelde besoeke, ook aan pa, voor en na ma se afsterwe. Pa en ons waardeer dominee se deernis. Dankie ook aan Dries Nel en Gerda Nagel van Martin’s begrafnisondernemers vir die baie simpatieke tog uiters professionele wyse waarop julle ons as familie met die poses van laaste eerbewys bygestaan het. Ons as familie is ook dankbaar en waardeer almal se boodskappe van medelye en vertroosting,” het Andries gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines