ADVERTISEMENT:

 

Petroljoggie mnr. Patrick Mufamadi van die Engen-vulstasie by Mount Fuji. Alhoewel daar nie werklik by vulstasies 'n toestroming van motoriste was vanweë Woensdag se verlaging in die brandstofprys nie, was vulstasies op dié dag besiger as gewoonlik.

Brandstoftenks nog nie leeg nie

 

News  Date: 08 August 2016

 

Het Soutpansbergers nodig om te vrees dat hulle voertuie sonder brandstof gaan staan, sou plaaslike vulstasies leegloop weens die huidige staking in die petroleumbedryf?

Sedert die naweek het verskeie vulstasies in Gauteng reeds leeggeloop as gevolg van die staking wat op 28 Julie begin het. ‘n Loongeskil tussen lede van die South-African Chemical, Paper, Printing, Wood and Allied Workers Union (CEPPHWAWU) en hulle werkgewers het aanleiding gegee tot die staking. Die vakbondlede eis ‘n 9% verhoging in hul salarisse, terwyl hul werkgewers (wat onder meer groot name soos Sasol, Engen en Total insluit) net ‘n 7% verhoging aanbied.

Die Zoutpansberger het dié week by verskeie plaaslike vulstasies gaan uitvind hoe die staking hulle tans affekteer en of daar rede is tot kommer indien die loongeskil nie spoedig opgelos word nie.

Die goeie nuus is dat daar geen onmiddellike rede tot kommer is wat plaaslike brandstofvoorrade betref nie. Al die vulstasie-eienaars met wie die koerant gesels het, het egter gesê dat hulle (sommige meer as ander) op een of ander manier deur die staking geraak word.

Dit is egter nie net vanweë die staking dat sommige plaaslike vulstasies se voorraad die afgelope week min geraak het nie. Woensdag se daling van 99c per liter vir petrol, 74c per liter vir 500ppm diesel en 73c vir 50ppm diesel het ook ‘n rol gespeel daarin dat sommige vulstasie-eienaars teruggehou het ten opsigte van brandstofaankope.

Volgens mnr. John Le Cornu van die Engen-vulstasie by Mount Fuji het hulle voorraad   50ppm diesel oor die naweek opgeraak. Dit was egter nie weens die staking nie. “Alhoewel ons nog diesel kon bestel, het ons soos baie ander gewag vir Woensdag se prysverlaging, want dan kon ons goedkoper bestel,” het Le Cornu gesê. Ter verduideliking het hy gesê dat sy tenk 23 000 liter diesel kan vat. Sou hy byvoorbeeld Dinsdag die tenk volgemaak het, sou hy oornag 73c per liter verloor het, oftewel ‘n verlies van sowat R16 000 op die totale aankope, wat hy nie weer sou kon verhaal nie.

Wat Le Cornu se ander petroleumprodukte betref, het hy gesê dat hulle nog genoeg voorraad het tot Donderdag hierdie week. “Ons bestellings is in, maar as hulle nie gaan aflewer nie, gaan ons probleme ondervind,” het Le Cornu gesê. Hy was egter optimisties dat hulle wel voorraad sou kon inkry, aangesien hulle plaaslik aankoop by die Engen Depot. “Ons stuur daagliks ons vlakke aan Engen deur en hulle sal definitief ‘n plan maak as ons voorraad begin min word. Hulle sal dalk nie ons tenks kan volmaak nie, maar hulle sal nie toelaat dat ons leeg hardloop nie,” het Le Cornu gesê.

Wat Woensdag se brandstofprysverlaging betref, het Le Cornu gesê dat hulle nie ‘n toestroming verwag van motoriste wat wil volmaak nie. “Buiten dat dit ‘n vakansiedag is, het baie mense reeds voor of oor die naweek volgemaak vanweë die staking en vrese dat vulstasies gaan leeg hardloop. Baie se tenks is dus nog vol,” het Le Cornu gesê.

Me. André Gilfillan van die BP-vulstasie by Bridge Auto het op haar beurt gesê hulle word tans nie regtig geraak deur die staking nie, aangesien hulle voorraad per trein aangery word na hul depot in Polokwane, vanwaar dit versprei word. Anders as vulstasies wat gewag het vir Woensdag se prysverlaging, het Gilfillan deurlopend bestel. Sy het bereken dat hulle met Woensdag se prysverlaging ongeveer R40 000 verlies gaan wys. “Ons kan onder geen omstandighede leeg hardloop nie, want ons moet dink aan ons kliënte,” het Gilfillan gesê.

Gilfillan het gesê sy wil geensins negatief wees oor die staking nie. “Ek glo ons sal brandstof kry en voorsien geen onmiddellike probleme nie, maar ‘n mens kan nie voorspel nie,” het Gilfillan gesê. Sy was ook pessimisties oor ‘n skielike toestroming na petrolpompe met Woensdag se prysverlaging vanweë die stemdag vakansiedag.

Wat brandstofvoorrade op hoofroetes soos die N1 betref, het mnr. Neels Kruger van die Total Petroport by die Capricorn Tolplaza gesê hulle word ook maar soos ander vulstasie-eienaars geraak deur die staking, maar dat hulle teen Woensdag nog geen tekorte ondervind het nie. “Aflewerings gaan normaal voort en binne die Total-groep voorsien ek geen probleme vorentoe nie,” het Kruger gesê. Hy het bygevoeg dat, soos met ander petroleum maatskappye, hulle raffinaderye steeds voortgaan met produksie en dat hul depots genoeg voorraad het. “Die probleem is net om die brandstof by die vulstasies te kry,” het Kruger gesê. Hy ook het nie ‘n toestroming van motoriste Woensdag verwag nie. “Vanoggend [Woensdag] was dit doodstil by die vulstasie,” het Kruger gesê.

Wat die brandstoftekorte verder suid betref, het Kruger gesê dat die situasie op die platteland anders is as die situasie in die stad. Hy het verwys na die brandstoftekorte in Gauteng en spesifiek Pretoria. Omdat die stakende werkers meer daar gekonsentreerd is, het Kruger gesê, is dit vir hulle makliker om aflewering aan vulstasies daar te belemmer.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines