ADVERTISEMENT:

 

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, vertoon die gesofistikeerde elektroniese opsporingsapparaat wat op een van die plaaswagvoertuie gevind is.

Woede oor spioenasie - Wie het dit gemagtig?

 

News  Date: 02 December 2005

 

Die opsienbarende ontdekking van spioeneringstoerusting, wat vermoedelik deur die polisie op ‘n private voertuig geplant is, is besig om skokgolwe deur die plaaslike gemeenskap te stuur. Internasionale reaksie kan waarskynlik volg.

Ongemagtigde, gesofistikeerde elektroniese opsporingsapparaat wat in die geheim op een van hul voertuie aangebring is, is deur lede van die georganiseerde plaaswagstelsel aangetref. Drie stelle opspoortoerusting met kragbronne is op een voertuig gevind.

Sulke spioenasie-optrede mag slegs met magtiging op die hoogste moontlike amptelike vlak uitgevoer word.

Die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, sê alles dui daarop dat dit die werk van ‘n SAPD eenheid is.

“Die apparaat is nie baie professioneel aangeheg nie. Dit laat opnuut die vraag ontstaan: Wat is die werklike motiewe van die polisie?”

Hy sê die opsienbarende ontdekking van gesofistikeerde spioeneringstoerusting kom te midde van ‘n massiewe ontplooiing van SAPD spesialiseenhede die afgelope tyd in die Soutpansbergomgewing.

“Die optrede het duidelik ten doel om die kleinserigheid en sensitiwiteit van hul politieke base oor die vlaggie-vlaag te besweer.”

Meiring het met verontwaardiging gereageer op die optrede waardeur daar ernstig inbreuk gemaak word op internasionaal-aanvaarde private, persoonlike regte en belangrike bepalings van die Suid-Afrikaanse grondwet blatant geïgnoreer word. Hy sê die optrede is ‘n belediging vir die landbougemeenskap, wat soos vyande eerder as vennote in die bekamping van misdaad behandel word. Die eienaar van die voertuig waarop die klandestiene opsporingstoerusting gevind is, is betrokke by die bekamping van hoë-profiel misdaad.

“Dit is opmerklik hoe dieselfde SAPD, wat massiewe spesialismagte kan monster vir ‘n blatante politiekdienstige veldtog, opvallend traag was en selfs geskitter het in hul afwesigheid in twee gevalle van lewensbedreigende, gewelddadige aanvalle op plase in die omgewing gedurende die afgelope tyd.” Hy het verwys na die voorval op 8 Oktober by Vivo, waarin twee misdadigers dood is en na die moord op Billy Meyer. Hy sê met die gewaardeerde uitsondering van ‘n paar individue (soos kaptein George Mills van Borderline Operations) is die polisie se betrokkenheid by die bekamping van plaasaanvalle en algemene misdaad op plase heeltemal ontoereikend.

“Ons het dit ook tydens die onlangse ontmoeting met die provinsie se Premier duidelik gestel dat ons tydens die plaasaanvalle tevergeefs by alle moontlike amptelike bronne versoeke vir lugsteun gedoen het.

Twee private individue het uiteindelik hul private helikopters gratis tot ons beskikking gestel.

“Dit noop my om te sê die lewens van mense op plase is nie ‘n prioriteit by die SAPD nie. Onder die gemeenskappe is dit die duidelike persepsie: Dit is nie MY polisie nie. Hulle hanteer my soos ‘n vyand, in plaas daarvan dat hulle my help en beskerm.”

Meiring het ook verwys na die polisie se onaanvaarbare gesloer met die ballistiese toetse van die handwapens van lede van die steunkringstelsel wat betrokke was by die aankeer van die twee misdadigers op 8 Oktober. Vier lede se handwapens is op 10 Oktober aan ‘n kaptein Seckle van die Mara SAPD oorhandig vir die toetse. Ten spyte van versekerings dat die wapens spoedeisend gehanteer sal word, is die wapens steeds in die SAPD se besit. Intussen was daar weer verskeie insidente waarin die betrokke lede hul wapens dringend nodig gehad het.

Meiring sê die wesenskern van ‘n demokratiese bestel en beskaafde norme in ‘n land word ernstig aangetas wanneer die polisie die gewillige lakeie van benepe politieke magsmisbruik begin word.

“Die verval van goeie dienslewering en die ondermyning van die reg slaan gevaarlik deur wanneer politici op blatante wyse die polisie toenemend begin gebruik vir hul persoonlike voordeel en benepe magsmisbruik”.

Meiring het verwys na die jongste voorvalle waar die burgemeester van Makhado en ‘n senior amptenaar van die plaaslike munisipaliteit probeer inmeng het met die regspleging by die plaaslike landdroshof, na die blatante onregmatige aanhouding van ‘n verdagte in die massiewe soektog na mense betrokke by die vlaggieverf vlaag. Hy sê terwyl die SAPD die lede van georganiseerde plaaswagstelsel as opponente en selfs as vyande behandel, is dit moeilik om sinvol en in samewerking met die SAPD suksesvol teen misdaad op te tree.

“Daar sal aan die kant van die SAPD hard gedink en hard gewerk moet word om die wydlopende persepsie te verander dat die polisie nie in almal se belang en tot almal se voordeel werk nie, maar bloot tot die voordeel van hul politieke meesters.”

Hy het verwys na die oormatige fokus en klem op die visuele protesaksies van die vlaggieveldtog.

“Daar is ‘n eenvoudig oplossing: Goeie regering met die klem op respek vir andere se kultuurgoedere.

“Op die vergadering met die Premier op 21 November is ‘n buitensporig gedeelte van die byeenkoms gewy aan die vlaggieverf kwessie. ‘n Predikant het toe aan die premier gesê baie van die probleme het begin met die eensydige, ongevoelige naamsveranderinge, waarmee ‘n deel van die bevolking vervreem word.”

Die voorval is intussen onder die aandag gebring van die polisie se provinsiale kantoor in Polokwane. Volgens supt. Ronel Otto sal die polisie graag wil reageer op die beweringe, maar weens ‘n tekort aan tyd sal volledige kommentaar eers beskikbaar wees vir die volgende uitgawe van die Zoutpansberger.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines