

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 December 2005
Die borsbeeld van Voortrekkerpionier Louis Trichardt het vandeesweek ‘n tussentydse openbare staanplek in die plaaslike munisipale biblioteek gevind, nadat aanbevelings van ‘n spesiale komitee op omstrede wyse omseil en vertraag is.
Die beeld, wat deur die vorige burgemeester op omstrede wyse verwyder is uit die voorportaal van die burgersentrum op die dorp, wat met sy stigting na Louis Trichardt vernoem is, was onlangs weer terug in die openbare kollig toe dit toe dit verdwyn het uit Fort Hendrina en by Lalapanzi sy opwagting gemaak het. By die beeld was ‘n nota waarin versoek is dat die beeld uit sy toestand van onsigbaarheid en verwaarlosing in die fort ‘n geskikter staanplek moet vind.
Die insident was aanleiding tot dringende onderhandelings op hoë vlak om reg te laat geskied aan die kultuurgoedere van alle bevolkingsgroepe. Die oproep het gekom nadat die verwery van ‘n standbeeld van die Vendaleier Makhado en gekleurde vlaggies op padtekens hewige emosionele reaksies vanaf onder meer die burgemeester en waarnemende munisipale bestuurder ontlok het. Dit het gedreig om rassespanning en polarisasie in die gemeenskap te laat toeneem, wat hoofsaaklik deur die omstrede naamsverandering van die dorp en die onaanvaarbare amptelike hantering van die borsbeeld aangehits is.
Die Voorsittersvereniging het die onderhandelings aan die gang gesit tydens ‘n ontmoeting met die burgemeester. In ‘n goedgemotiveerde voorlegging is versoek dat alle bevolkingsgroepe instaatgestel moet word om hul helde met behulp van beelde te vereer ingevolge ‘n weldeurdagte amptelike beleid.
Die burgemeester het toe ‘n spesiale komitee aangewys, wat aanbeveel het dat die borsbeeld voorlopig voor die Geloftekerk ‘n openbare staanplek moet vind en dat daar oor die lang termyn aan ‘n amptelike beleid gewerk moet word.
By oorweging van die voorstel het die stadsraad egter besluit dat die beeld voorlopig weer buite sig in veilige bewering moet bly, totdat ‘n amptelike beleid eers aanvaar kan word.
Hierdie terugkrabbeling op die positiewe vordering wat tydens die vergadering met die burgemeester gemaak is, het hewige verset by die publiek ontlok, wat die voortgesette onsigbaarheid van die beeld as ‘n voortdurende misdaad teen die kultuurregte van ‘n bevolkingsgroep beskryf het.
Die munisipaliteit het onmiddellik hierna aangekondig dat die beeld voorlopig in die openbare biblioteek geplaas sal word. Die beeld is op sy voetstuk in die middel van die biblioteeksaal geplaas.
Die onderhandelings oor die langtermyn hantering van die aangeleentheid duur intussen voort.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
