

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 December 2005
Dit lyk of munisipale rekeninge met belaglike bedrae daarop maar net nie ‘n einde wil kry nie. Vir jare lank stroom rekeningklagtes in en beloftes dat stappe geneem sal word, het ook al verjaar.
Plaaslike belastingbetalers kan nie meer kwalik geneem word dat hulle ‘n indringende ondersoek wil hê na die werklike oorsake en die regstelling daarvan nie.
Hierdie keer het spoorweghuise in Groblerstraat langs die treinspoor deurgeloop. Die eienaar van Spoorweghuis 2 het ‘n paar maande gelede ‘n waterrekening van meer as R2 000 ontvang.
“Die huurders is min tuis en hulle maak ook nie tuin nie,” sê die eienaar, mnr. Loffie Grobler. Nadat hy gaan kla het, het hy weer vir Oktober ‘n rekening van amper R2 000 ontvang. Hy en sy opsigter, mnr. Pieta Mugwena, het ondersoek gaan instel by die watermeter. Dié was so geroes dat geen syfertjies daarop gelees kon word nie.
Die bure sê dat hulle die meterleser gesien kom het en dat hy iets in ‘n boek geskryf het. Die meterleser was na bewering een slag buite die erf en het deur die gesplete pale van buite die lesing geneem.
Mnr. Grobler sê dat hy die afgelope drie maande R5 000 aan water moes betaal.
“Ek hou maar my mond en betaal, want ek koop ook voorafbetaalde krag by die munisipaliteit en jy kan dit nie koop as jou rekenings nie opbetaal is nie,” sê Grobler.
By Spoorweghuis 1 moes mnr. Hippie en mev. Isabel Pretorius die skok ontvang van ‘n rekening wat dubbeld hulle normale rekening is. Mnr. Pretorius sê dat sy vrou gaan betaal het en verneem het van die amptenaar dat die munisipaliteit hulle eintlik R300 skuld. Nie lank daarna nie het amptenare egter by hulle huis opgedaag om die krag te kom afsny.
In die nuwe uitbreiding, het mnr. Dirk Coetzee in Augustus ‘n waterrekening van R6 000 ontvang. Hulle skakel elke maand hulle waterlesing deur en dan kom die meterleser ook en lees die meter saam met hulle. Mnr. Coetzee sê dat hy nie ‘n swembad het nie en ook nie ‘n waterpyp wat lek nie.
Vir Oktober het mnr. Coetzee weer ‘n totale rekening van R7 000 ontvang.
“Ek het sommer begin lag,” sê hy. Alhoewel hy gelukkig is dat die foute telkens reggestel word, was hy jammer vir die pensioenaris in dieselfde omgewing wat sommer ‘n R3,5 miljoen rekening gekry het.
“Hulle het glo vir hom gesê om eers te betaal, dan sal hulle die saak regstel.”
Mnr. Peter Magwala, die munisipale woordvoerder, het verlede week gesê dat ‘n ondersoek gedoen sal word om vas te stel waar die probleem presies lê.
“Wanneer ons dié inligting het, sal ‘n meganisme in plek gestel word om die probleem te beste te hanteer.”
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
