

ADVERTISEMENT:

News Date: 02 December 2005
H.O. Erasmus, wat ‘n jaar en sewe maande gelede ‘n hartoorplanting ondergaan het, is onverwags op Sondag, 20 November, oorlede aan ‘n hartaanval.
“Dit was net so skielik,” het sy vrou, Heila, hierdie week gesê. Heila en die twee dogters was alleen by die huis toe sy die oproep ontvang het om vir H.O. by die werk te kom haal.
“Ons was om 09:20 by die huis en hy het gesê sy niere pyn verskriklik. Tien minute later is hy oorlede. Hy moes ‘n massiewe hartaanval gehad het, want sy hele liggaam was potblou,” sê Heila. Sy sê dat die een dogter uitgehardloop het om hulp te soek en genadiglik op twee polisiemanne afgekom het wat dadelik gekom het. Later het die ambulans en drie dokters ook gekom. Dit was egter reeds te laat.
H.O. het op 46-jarige ouderdom ‘n nuwe hart ontvang. Inwoners van die dorp het hom geken as onderdeleverkoopsman by Werda Motors waar hy vir 14 jaar gewerk het voordat hy op mediese gronde net op tydelike grondslag gewerk het. HO is met hartversaking gediagnoseer nadat komplikasies ontwikkel het na ‘n gewone griep in Augustus 2003. In Desember dieselfde jaar is hy positief getoets as ‘n gepaste ontvanger van ‘n hart en is op die hartoorplantingslys geplaas. Familie en vriende oral het saam gewag en gebid vir ‘n gepaste skenker.
In April 2004 was almal saam met die gesin bly toe H.O. ‘n skenker gekry het en hy ‘n nuwe lewe met ‘n nuwe hart begin het. Na die moeilike wagtyd om te kyk of die nuwe orgaan nie verwerp word nie, het H.O. aangesterk en dit het goed met hom gegaan. Die gesin het voor die hartoorplanting na Modimolle verhuis om by familie en nader aan die groot hospitale te wees. Die verskuiwing was ook belangrik vir Heila, wat op haar beurt ‘n leweroorplantingspasiënt is.
Jan Erasmus, wie se bynaam “H.O.” van sy rugbydae af vasgesteek het, is gebore op 14 Februarie 1958. Hy was ook ‘n ywerige gholfspeler op Louis Trichardt, maar het na sy hartoorplanting nie meer gespeel nie. Sy gesin sal hom onthou as ‘n buitengewoon liefdevolle eggenoot en pa wat, ten spyte van sy siekte, altyd sorgsaam was en hulle belange eerste gestel het. Hy is op 23 November vanuit die NG Kerk Nylstroom begrawe en laat sy vrou en drie kinders, Wynand (17), Heila (17) en Jolene (15) agter.
Die gesin sê aan al die mense wat so lief vir H.O. was soos wat hulle vir hom was, baie dankie vir al die hulp en ondersteuning deur die jare.
Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

ADVERTISEMENT:
