ADVERTISEMENT:

 

Polisie sê dit is nie hul spioenasietoerusting nie

 

News  Date: 09 December 2005

 

Die polisie se provinsiale woordvoerder, senior superintendent Motlafela Mojapelo het Woensdag gesê dat die polisie geensins betrokke is by die voorval waar spioenasietoerusting op die voertuig van ‘n lid van die TLU SA se plaaswag aangebring is nie.

Supt Majapelo het gereageer op die voorbladberig van die Zoutpansberger van 2 Desember waarin die voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie, mnr. Gideon Meiring, die polisie daarvan beskuldig dat hulle die spioenasietoerusting geplant het. Drie gesofistikeerde elektroniese opsporingsapparate is op ‘n lid van die plaaswag se bakkie gevind.

“Die optrede het duidelik ten doel om die kleinserigheid en sensitiwiteit van hul politieke base oor die vlaggie-vlaag te besweer,” het Meiring onder meer oor die polisie opgemerk.

In sy reaksie het Supt Mojapelo gesê die polisie distansieer hulle van die toerusting.

“Dit is nie die eiendom van die polisie nie. Ons weet nie waar dit vandaan kom nie. In dieselfde asem neem ons kennis van mnr. Meiring se uitlating dat die toestelle verband hou met die vlagverwery op paaie. Ons sal dit verder opvolg,” sê Supt Mojapelo.

Supt Mojapelo sê dat, aangesien dit nie hulle toerusting is nie, hulle nie verder kan kommentaar lewer oor die aangeleentheid nie. Hy sê dat hulle nog nie met Mnr. Meiring kontak gemaak het nie en ook nie die saak ondersoek nie, aangesien mnr. Meiring “verkies het om eerder met die media daaroor te gaan praat”.

“As hulle wil hê die polisie moet die saak ondersoek, dan moet hulle ‘n klag kom lê,” het Supt Mojapelo gesê.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines