ADVERTISEMENT:

 

Baie vrae en griewe het ontstaan rondom die wyse en prosedure rondom die oprigting van die nuwe betonhouers met straatname, advertensieborde en vullishouer.

Sakelui ongelukkig oor vullis-advertensieborde

 

News  Date: 09 December 2005

 

Betonhouers met straatname, advertensieborde en selfs ‘n klein vullishouer binne in, verrys oral op die dorp se straathoeke. Die wyse waarop alles geskied, laat egter baie vrae en griewe by inwoners.

Geen openbare tender vir die plaas van die houers is deur enige besigheidsinstansie gesien nie. By navraag het die munisipale woordvoerder en Direkteur: Korporatiewe Dienste, mnr. Peter Magwala, bevestig dat geen tender uitgegaan het nie.

Sakelui wonder waarom die projek nie op openbare tender uitgesit is nie. Was dit slegs ‘n interne munisipale reëling? Waarom skyn dit of ‘n maatskappy buite die dorp die alleenreg op die straathouers en advertensieborde gekry het? Sou dit wees dat, in ruil vir die guns wat bewys word om vullishouers met straatname op hoeke te plaas, die alleenreg gegee is om die advertensieborde te bedryf? Waarom word plaaslike letterskilders nie vir die maak van die advertensieborde gebruik nie?

Plaaslike besighede moes maar toekyk hoedat die kos uit hulle monde geneem word en hulle geen deel het aan die betonhouerprojek nie. Diegene wat in die verlede hierdie tipe werk vir die munisipaliteit gedoen het, is geïgnoreer.

Die maatskappy Combo Sign, met ‘n Bloemfonteinse telefoonnommer, nooi adverteerders uit om hulle te skakel om op die driekantige houers te adverteer.

Intussen lyk dit of straatadvertensies in die dorp in ‘n Babelse verwarring ontaard het. Een besigheidspersoon se riffel advertensieborde wat teen die lamppale vasgemaak is, is summier afgeruk nadat dit ‘n week of twee op was. Dit, nieteenstaande die feit dat daar munisipale toestemming verkry is en ook betaal is.

Eienaardige dreigemente het ook die rondte gedoen. Van die sakelui is gedreig dat die meer permanente advertensieborde se pale afgesaag sal word.

“Ek het reeds by die munisipaliteit betaal vir die borde, maar is nou bang om dit op te rig,” sê hierdie sakepersoon. Sommige lede van die sakelui wat toestemming wou hê om te adverteer, is aangesê om na Megaphase in Burgerstraat te gaan. Op daardie perseel lê die betonhouers wat nog nie gebruik is nie.

Die griewe van sakelui handel ook oor die prosedure, toestemming, reëls en regulasies en die moeilike proses om inligting te bekom rondom die plaas van advertensieborde.

Inwoners wat die betonhouers bekyk, voel gegrief omdat sommige daarvan skeef en slordig opgerig is. Dit vertoon ook slonsig en onnet wanneer die vullis bo uitpeul of bo-op gestapel word.

“Die vullishouer is niks groter as die een in jou kombuis nie en jy moet jou hande daarin druk as jy dit wil uitdiep om skoon te maak,” was een inwoner se opmerking.

Mnr. Magwala het Dinsdag gesê dat die maatskappy Combo Sign die Raad genader het om hierdie diens aan die munisipaliteit te verskaf.

“Daar was geen finansiële implikasies nie. Ons het hulle versoek gunstig oorweeg en besluit om hulle die geleentheid te gee om in die dorp te adverteer. Ons het die wettigheid van die aansoek ondersoek,” het mnr. Magwala gesê.

Uitsluitsel rondom die spesifieke voorwaardes van die kontrak en die regte wat aan die maatskappy toegeken is, kon nog nie gegee word nie. Die munisipale woordvoerder het gesê dat hy nie weet of enige belang van munisipale kant in die projek verklaar is nie en dat hy dit eers sal moet ondersoek.

Die kwessie rondom die alleenmandaat van die maatskappy en die gronde daarvoor is ook nog nie volledig aangespreek nie.

“Dit is nie Combo wat die ander verbied om te adverteer nie, dit is ons eie reëls (munisipale ordonnansies) wat sê dat ons nie van twee diensverskaffers gebruik maak nie,” het mnr. Magwala gesê.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines