ADVERTISEMENT:

 

Ds. en mev. Harm en Hannetjie Bonnema groet die gemeenskap na 22 jaar en wens almal die Here se rykste seën toe.

Ds. Harm en gesin groet streek

 

News  Date: 09 December 2005

 

“Ds. Harm Bonnema was werklik die dorp se predikant.”

So voel lidmate van verskillende kerke, noudat die tyd aangebreek dat die Bonnemagesin die gemeenskap groet.

Ds. Harm en sy vrou Hannetjie groet en seën die gemeenskap en al hulle goeie vriende wat hulle die afgelope 22 jaar hier gemaak het.

Hannetjie onthou hoedat ds. Harm tydens sy verjaarsdagete sy gaste alleen gelaat het omdat iemand van ‘n ander kerkgenootskap hom geskakel het met die boodskap dat haar ma op sterwe lê.

“Jy moenie dit vertel nie,” kap ds. Harm teë, met sy vriendelike en beskeie glimlag.

Hannetjie vertel ook hoe hulle tydens ds. Harm se siekte ervaar het dat hy almal se predikant was. Met sy hartomleiding en daaropvolgende verwydering van die borsbeen, is die gesin ondersteun deur mense van al die kerkgenootskappe. Die Bonnemas het na ds. Harm se ligte beroerte in Augustus vanjaar besluit om die medici se raad te volg en nader aan die groot hospitale en spesialiste te gaan woon. Die Bonnema egpaar en hul dogter, Andorette, gaan hulle in Vanderbijlpark vestig, waar hulle oudste seun Hendrik en sy vrou Liezl hul eie onderneming het. Dit is ook nader aan Potchefstroom waar hul jongste seun, Harm (19) onderwys studeer.

Ds. Harm se bediening in Louis Trichardt het in November 1983 by die N. G. Kerk Soutpansberg-gemeente begin, waarna hy sedert April 1990 vir twaalf jaar as leraar en drie jaar as pastorale hulp aan die N. G. Kerk Louis Trichardt-gemeente verbonde was.

“Die hele bediening was vir my ‘n hoogtepunt met die ryke verskeidenheid van mooi en dierbare mense wat ‘n mens daardeur leer ken,” sê ds. Bonnema. Na ‘n oomblikkie se nadenke sonder hy tog die bejaardesorg, hospitaalbediening en barmhartigheidsdiens uit. Hy sê dat hy veral die bejaarde lidmate baie gaan mis “"hulle van wie ons so baie kon leer.” Uitdagende projekte die afgelope 15 jaar was vir hom onder andere die oprigting van die besigheidskompleks, die oprigting van die “Muur van Herinnering” en die stoffering van die vroeëre “martelbanke” in die kerkgebou.

“Ons offer bo alles ons dank aan God die Here wat Sy kerk onstuitbaar voortlei. Ons is diep dankbaar vir wonderlike medeleraarspare en al die medegelowiges wat saam met ons medestryders was en hulle spore nagelaat het. Mag julle dankbaarheid steeds sigbaar wees in julle werke, want onthou: Julle is die STAD OP DIE BERG!” sê ds. Harm.

Buiten haar gemeentewerk, was Hannetjie die laaste 18 jaar ‘n bekende in die eiendomsbesigheid. Hannetjie is bly om te sê dat haar besigheid steeds voortgaan en dat dit nou bedryf sal word vanaf Martin en Lynette du Plessis se huis in Schimpersingel. Hannetjie bedank ook al haar kliënte vir hulle lojale ondersteuning deur die jare.

Hannetjie sê dat elke keer wanneer sy van hulle meenthuis in die La Perla kompleks terugkeer na die dorp, sy opnuut besef hoe pragtig die omgewing is. Die Bonnemas sal nog gereeld kom besoek, vir besigheidsredes en ook om familie en vriende op te soek. Hulle nooi ook almal uit om ‘n draai by hulle in die La Perla kompleks, wat naby die Riverside Hotel is, te maak.

 

Written by

Linda van der Westhuizen

Linda van der Westhuizen has been with Zoutnet since 2001. She has a heart for God, people and their stories. Linda believes that every person is unique and has a special story to tell. It follows logically that human interest stories is her speciality. Linda finds working with people and their leaders in the economic, educational, spiritual and political arena very rewarding. “I have a special interest in what God is doing in our town, province and nation and what He wants us to become,” says Linda.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines