

ADVERTISEMENT:

News Date: 09 December 2005
Die nasionale minister van finansies gaan dringend versoek word om die afskaffing van distrik munisipaliteite soos Vhembe te ondersoek.
Die TLU SA Noord sê dit is nou tyd dat die nasionale regering begin kyk na die afskaffing van distrik munisipaliteite wat bloot instellings is met geen duidelike funksie in die nuwe bedeling nie. In die meeste van dié munisipaliteite heers daar totale administratiewe chaos. Dit is slegs ‘n instelling wat massiewe salarisse betaal, sonder dat daar enige deursigtigheid is of verantwoording aan die gemeenskap gedoen word.
Vhembe is ‘n sprekende voorbeeld. Dit verbruik ‘n aardige hoeveelheid geld en verrig geen diens of enige ander funksie nie.
Die voorsitter van die TLU SA Noord, mnr. Dries Joubert, sê die kommerwekkende ineenstorting van die na-ure foutrapportering van die munisipale elekrisiteitsafdeling kan regstreeks toegeskryf word aan die oordrag van funksies na die Vhembe Distrik Munisipaliteit. Hy sê die Makhado Munisipaliteit het al die jare ‘n na-ure nommer gehad wat deurentyd beman is. Dit het foutrapportering moontlik gemaak en die stelsel het goed gewerk. Na ‘n staking van munisipale werkers ‘n paar jaar gelede is die diens blykbaar na die Brandweerkantoor oorgedra. Dit het nie werklik goed gewerk nie, omdat die beamptes wat nie in die elektrisiteitsafdeling werk nie, nie presies geweet het hoe die sisteem funksioneer nie, maar daar was ten minste ‘n kontakpunt. Skielik is die brandweerfunksie na die Vhembe Distrik Munisipaliteit oorgedra en daarmee saam het die foutrapportering in die slag gebly.
Mnr. Joubert sê elektrisiteit is ‘n basiese diens en dit is totaal onaanvaarbaar dat doeltreffende foutrapportering nie beskikbaar is nie.
Die TLU gaan dringend met ESKOM kontak maak sodat die munisipaliteit verplig kan word om beter diens te lewer. Amptenare in die elektrisiteitsafdeling van die munisipaliteit ondervind ‘n geweldige probleem deurdat hulle nie betyds bewus gemaak kan word van foute wat voorkom nie.
‘n Woordvoerder van die munisipaliteit, mnr. Peter Magwala, het vroeër aangedui dat lede van die publiek met alle na-uurse diensprobleme die munisipaliteit se nommer moet skakel. Die persoon aan diens sal sorg dat die korrekte funksionaris in kennis gestel word.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
