ADVERTISEMENT:

 

Topgehalte sosaties sal weer vanjaar op die groot Dopperfees beskikbaar wees. Hier is Mevv Nanette Malan en Hanlie Nagel by die die sosaties wat tydens die fees gebraai gaan word,

Doppers La’t Wiel weer!

 

News  Date: 01 September 2016

 

Ná die suksesvolle La’t Wiel-fees van 2015, het die predikant van die Gereformeerde Kerk Louis Trichardt, ds. Innes Nagel, belowe dat die gemeente hierdie jaar weer gaan La’t Wiel.

Eerskomende Saterdag, 3 September, La’t Wiel die gemeente weliswaar dan weer en word ‘n groot fees beplan.

Almal wat die kermis verlede jaar bygewoon het, was beïndruk met die feestelike atmosfeer wat deurgaans geheers het. Daar is heerlik geëet en saamgekuier en die koektafel het behoorlik gekreun.

Vir amper ‘n jaar is daar fyn beplan en daar sal vanjaar nog ‘n groter verskeidenheid produkte as verlede jaar wees. Daar word gepoog om die produkte op die koektafel te verdubbel sodat daar beslis genoeg vir die inwoners van die gebied sal wees. Die vleisstalletjie sal ook iets besonders wees, met keursnitte vir elke smaak.

Die veilingstalletjie wek altyd groot belangstelling. Los goedere in werkende toestand gaan opgeveil word, terwyl daar ook ‘n “gawe”-veiling aangebied sal word. Hier sal naweekpryse of weekpryse by lodges, strandhuise of jagplase opgeveil gaan word, terwyl daar geskenkbewyse van lidmate se talente soos haresny, gesinsfoto's neem, arbeid as motorwerktuigkundige, of as loodgieter of konsultasiefooi by dokters, of ‘n fisioterapeut opgeveil sal word.

Die gewilde plantstalletjie sal vanjaar saailinge, struike en pragtige bromeliads vertoon. ‘n Nuwe stalletjie wat vanjaar beloof om baie aandag te trek is die tuisgemaakte handwerk. Artikels van lap, hout, yster, wol en krale en gare en verskillende materiaal sal vertoon word en sal baie handige Kersgeskenke aanbied.

Verlede jaar het die pastoriemoeder die dorp aan die praat gehad met haar prinsessie-kompetisie en vanjaar is daar ‘n nuwe kompetisie en seuns kan ook deelneem. Kleuterkokke sal kan meeding in ‘n koekversierkompetisie. Alhoewel daar verskeie pryse te wen is, is die wenprys ‘n aanloklike R1 000. Selfs die besgeklede kokkie ontvang ‘n prys.

Die kleuters van die dorp sal goed besig gehou word in die Dopper-Tjokker-hoekie, waar daar onder meer ‘n springkasteel sal wees, gesigte en hare geverf sal word en vanaf 09:00 tot 12:00 sal die spoke in ‘n regte spookhuis loop. Selfs die ouers word uitgenooi om interessante grillerige gedaantes te kom trotseer.

Verskeie speletjies sal ook aangebied word en die wenprys in die skyfskietkompetisie is ‘n rooibok.

Daar sal baie kos beskikbaar wees, van regte bazaarpoeding tot trifle, asook keurprodukte van die bekende Dopperkuierkafee en die Van Ree-egpaar het beloof om 'n duisend pannekoeke vir die hongeriges te bak.

Ds. Nagel het al die inwoners van die gebied uitgenooi om die dag saam met die gemeente te mee te maak. "Hier sal genoeg te ete en te drinke wees, en kom geniet die dag saam met ons," het hy gesê.

 

Written by

Wikus Lee

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines