ADVERTISEMENT:

 

Bejaarde boervrou en huishulp oorleef plaasaanval

 

News  Date: 16 December 2005

 

‘n Selfoonoproep het vandeesweek ‘n gewelddadige gewapende aanval op ‘n bejaarde vrou en haar huisbediende op die plaas Panorama kortgeknip en waarskynlik hul lewens gered. Die plaas is sowat ses kilometer buite die dorp.

Die 75-jarige mev. Alta Botes en haar huishulp was Maandagoggend omstreeks 10:00 alleen tuis, toe twee mans aangestap kom. By die hek het hulle mev. Botes meegedeel dat mnr. (Pieter) Botes, wat kort tevore saam met sy dogter dorp toe is, hulle gestuur het om op die plaas te kom werk. Toe mev. Botes die hek oopmaak, het die twee haar gegryp en aangeval. Hulle het haar met ‘n mes gedreig, terwyl hulle haar en die huishulp, Sara, in die huis ingedwing het. Daar het hulle wapens en geld geëis en aangedring op “the keys to the small safe”. Daarna is die twee vroue vasgebind en geblinddoek, terwyl hulle vir die daaropvolgende twee ure telkens met die mes en met die wapens uit die kluis gedreig is.

Die twee rowers was besig om die huis om te keer om waardevolle artikels bymekaar te maak, toe hul selfoon skielik gelui het. Onmiddellik na die oproep het hulle inderhaas laat spat en selfs een van die vuurwapens wat hulle uit die kluis gehaal het, op die kombuistafel agtergelaat.

Die 80-jarige mnr. Botes en sy dogter Maresa het kort na 12:00 teruggekom op die plaas, waar hulle die twee erg-getraumatiseerde vroue aangetref het.

‘n Sekuriteitsmaatskappy, die TLU se plaaswag steungroep en die polisie is ontbied en het vinnig opgedaag. Nadat verskeie paaie afgesper is, is drie verdagtes aangekeer en aan die polisie oorhandig. In die digte mis wat Maandag op die plaas en omgewing gehang het, was die soektog moeilik, omdat selfs die polisie se honde-eenheid probleme ondervind het om die spoor in die misweer te volg.

Maresa het in ‘n onderhoud waardering uitgespreek vir almal wat so vinnig gereageer het op die noodroep.

“Die vinnige reaksie en die onderskraging wat ons van soveel vriende ontvang het, is vir ons baie werd.” Sy het ook besondere waardering uitgespreek teenoor dr. Philip Venter (Soutpansberg Sektor Polisiëring, wat blitsig eerste op die toneel was), Christo Nel, ds. Kriel en dr. Badenhorst vir hul bystand.

Sy sê alles dui daarop dat die aanval goed beplan was en dat die aanvallers vooraf tersake inligting bekom het. Sy sê die selfoonoproep was waarskynlik van ‘n medepligtige wat hulle gewaarsku het.

“Ons sien duidelik die beskermende hand van die Skepper, wat verhoed het dat ma-hulle ernstiger beseer is. Ons glo dit is blote genade wat hul lewens gered het.”

Mev. Botes moes Dinsdagoggend ‘n uitkenningsparade by die polisiekantoor op die dorp bywoon. Ongelukkig was dit nie die drie verdagtes wat haar en haar huishulp aangeval het nie.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines