ADVERTISEMENT:

 

"Versteurde" man maak amok by ouetehuis

 

News  Date: 16 December 2005

 

‘n Oënskynlik versteurde man met ‘n kapmes is deur die polisie tot bedaring gebring en aangekeer, nadat hy vir etlike ure aan weerskante van die N1 in die omgewing van Ons Tuiste Ouetehuis dreigende houdings ingeneem het.

Lede van twee sekuriteitsondernemings en verskeie eenhede van die SAPD was by geleentheid betrokke by die operasie om die man onder beheer te kry.

Die voorval het vroeg Vrydagoggend (2de) begin, toe die bestuurder van Ons Tuiste, mev. Kittie de Bruin, die man aan die oorkant van die straat voor die ouetehuis opgemerk het. Hy het dreigend nadergestaan en met sy vinger snybewegings oor sy keel gemaak, terwyl hy na haar beduie het.

Nadat mev. De Bruin die gebou binnegegaan het, het die man oorbeweeg na die motorhek by die woonstelle op die ouetehuisperseel. Inwoners het die hek gesluit gehou en sy intimiderende teenwoordigheid aan die bestuur gerapporteer.

‘n Lid van ‘n sekuriteitsonderneming het opgedaag, maar die man het ‘n lang mes uitgepluk en koers gekry na die N1. Die polisie is ontbied en uiteindelik het verskeie polisievoertuie op die toneel opgedaag. Volgens omstanders het die man soos ‘n wilde dier rondgeskarrel en ‘n moeilikhanteerbare situasie geskep, terwyl hy die gevaarlike mes rondgeswaai het. ‘n Polisiehelikopter het later by die polisievoertuie aangesluit en oor die toneel gehang.

‘n Woordvoerder het bevestig dat die man veel later onder beheer gebring en ontwapen is. Dit is nie bekend of die persoon in aanhouding is en of hy vir sielkundige waarneming na ‘n inrigting gestuur is nie. Die SAPD se kommunikasie-afdeling kon by navraag geen inligting oor die voorval of oor die persoon verstrek nie, maar het belowe om inligting te bekom.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines