

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 December 2005
Met die aanbreek van die Kersseisoen was daar vir vyf van Buysdorp se pensioenarisse niks om te vier nie, nadat hulle geen pensioenuitbetalings ontvang het nie.
Volgens mnr. Gilbert Lawerence, ondervoorsitter van die Buysdorpklub vir Bejaardes, het dit alles begin toe die poskantoor versuim het om die vyf lede se pensioen aan hulle uit te betaal. Mnr. Lawerence het toe die kwessie met die poskantoor opgeneem, maar die rede waarom die pensioene nie uitbetaal is nie kon nie vasgestel word nie. Die pensioenarisse is verwys na die kantore vir Sosiale Sekuriteit, oftewel die pensioenkantore. Hulle is gevra om afskrifte van hul identiteitsdokumente in te handig, sodat daar ondersoek ingestel kon word.
Mnr. Lawerance het later teruggegaan, net om te hoor dat die probleem opgelos is, maar dat die betrokke pensioenarisse eers hul geld gedurende Januarie volgende jaar sal ontvang. Volgens mnr. Lawerence het die vyf lede krag- en telefoonrekeninge om te betaal, om nie eers te praat van kosvoorraad wat aangekoop moet word nie. Wat die hele situasie nog vererger, is dat dit alles gebeur net so voor die Kerstyd. ‘n Woordvoerder van die pensioenkantore het gesê dat daar wel probleme is, maar dat hulle dit so gou as moontlik sal oplos. Die woordvoerder het bygevoeg dat die vyf lede op Buysdorp nie al pensioenarisse is wat nie betaling ontvang het nie.
Die probleem het klaarblyklik ontstaan as gevolg van korrupsie deur persone wat deur ander persone se identiteitsdokumentbesonderhede geld eis. Dié dubbele identiteitsdokumente, soos dit bekend staan, is verwyder en pensioenarisse wat nie kom kla het nie se name is van die uitbetalingslys afgehaal. Volgens die woordvoerder sal alle benadeeldes kospakkies ontvang om hulle deur Desember te help, maar hy sê dit is jammer dat van die pensioenarisse se rekeninge onbetaald gaan bly, aangesien hulle eers in Januarie weer geld sal ontvang.

ADVERTISEMENT:
