ADVERTISEMENT:

 

Telefoondrade hang bykans op die grond langs die N1 suid net buite die dorp in die industriële gebied. Die skade is aangerig deur koperdraaddiewe.

Koperdraaddiewe pootjie Telkom

 

News  Date: 16 December 2005

 

‘n Tekort aan koper-telefoonkabels en stelselfoute blyk die oorsaak te wees waarom Telkom so traag is om die vlaag telefoonprobleme wat tans in die streek heers hok te slaan.

Een boer aangrensend tot die Ben Lavin Natuurreservaat, mnr. Gert van Zyl, moes reeds die afgelope vier weke sonder enige telefoondiens van Telkom klaarkom. Aanvanklik is ‘n motorongeluk aangevoer as die oorsaak van die onderbreking, nadat ‘n telefoonpaal uitgery is, maar weke later en nadat die fout meer as ses keer aangemeld is, word koperdraaddiefstal nou aangevoer as die oorsaak vir die onderbreking in dienslewering.

Talle pogings vanaf die Zoutpansberger die afgelope paar weke om meer inligting vanaf Telkom te bekom oor wat presies die rede vir die onderbrekings en steselfoute is, is telkens met leë beloftes begroet. Plaaslik het Telkom-beamptes dit baie duidelik gestel dat hulle nie by magte is om met die pers te praat nie.

By verdere ondersoek is daar nie-amptelik vasgestel dat die diefstal van koper telefoondrade die grootste oorsaak blyk te wees van die voortslepende probleme. Alhoewel die polisie padtekens met valkoë dophou vir ‘n kans om die “vlaggieverwers” vas te trek, kon diewe daarin slaag om etlike kilometers koper-telefoondraad langs die N1 verby Eltivillas en die industriële gebied te steel. Getuienis hiervan is die “bondels” koperdraad wat by talle telefoonpale in hierdie area feitlik op die grond hang.

“Maar waarom vat dit so lank om te herstel?” was die vraag van baie wat geaffekteer is.

Die rede waarom die probleem tot op hede nog nie herstel kon word nie, is die feit dat die fabrieke wat die koperdraad vervaardig klaarblyklik vir die vakansieseisoen gesluit het. Dit het ‘n tekort aan koperdraad tot gevolg gehad. ‘n Nie-amptelike woordvoerder van Telkom in Pretoria het Maandag bevestig dat daar ‘n tekort aan koperdraad was, maar dat ‘n besending koperdraad reeds op pad is na Makhado (Louis Trichardt). Die reis sal na bewering ‘n dag of twee duur, waarna die beskadigde lyne binne 48 uur herstel sal word. As alles volgens plan verloop, het die woordvoerder gesê, sal mense soos mnr. Van Zyl se telefoondiens teen die naweek weer in werking wees.

 

Written by

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines