

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 December 2005
In ‘n nuwe wending in die landbou-spioenasieskandaal is die onopgeloste moord op prominente landboupersoonlikheid Martin Armitage en die oënskynlike gebrek aan enige sinvolle ondersoek na die sabotasie van die Levubu kraglyn geopper tydens gesprekvoering op hoë vlak tussen die SAPD en ‘n TLU SA-afvaardiging.
Tydens die gesprek verlede week Donderdag, het bestuurslede van die TLU SA ‘n algehele gebrek aan vertroue uitgespreek in die vermoë en in die integriteit van die SAPD.
‘n TLU SA-afvaardiging onder leiding van mnr. Dries Joubert, met teenwoordig mnr. Francois du Toit (Kommuniaksiehoof), Willem Helm (Dagbestuur Soutpansberg) en me. Marie Helm (Bestuurder, TLU SA Noord) was in gesprek met Direkteur Smith van die polisie se regsafdeling, Direkteur Madiwana en Superintendent Rapeluana, beide van die speurafdeling van die SAPD. Die ontmoeting het plaasgevind op versoek van die SAPD, wat graag met mnr. Gideon Meiring, voorsitter van die TLU SA Noord Veiligheid, wou gesprek voer oor die vonds van opsporingsapparaat op ‘n voertuig van elemente betrokke by TLU Veiligheid. Meiring was nie beskikbaar nie.
Die SAPD het ontken dat hulle verantwoordelik is vir die plasing van die opsporingsapparaat en is begerig om die saak te ondersoek. Daar is egter geen formele klagte gelê nie. Willem Helm het die SAPD afvaardiging in kennis gestel dat die hoofrede waarom ‘n formele klagte nie gelê is nie, die totale gebrek aan vertroue is in die SAPD, op beide die vlakke van vermoë en integriteit.
Die SAPD verteenwoordigers is meegedeel dat ‘n eie ondersoek aan die gang is en dat in twee van die opsoringsapparate Vodacom-simkaarte gevind is met telefoonnommers. By een nommer het ‘n Afrikaanssprekende blanke man geantwoord en aangedui dat hy van Pretoria is. Die derde stuk opsporingsapparaat is meer gesofistikeerd en van militêre oorsprong, maar word ook deur die SAPD of NIA gebruik.
Die SAPD-afvaardiging het daarop gewys dat Meiring in hegtenis geneem kan word aangesien hy in besit van opsporingsapparaat is. Hierop het Willem Helm hulle gewys op die totale belaglikheid daarvan: ‘n Toestel(le) word geplant gevind en die opspoorder moet dan in hegtenis geneem word.
“Is dit nie verregaande en net moontlik in Piesangland nie?” wou Helm weet. Die SAPD is daarop gewys dat die toerusting veilig geberg word, maar gewis nie by Meiring se woning nie.
Die SAPD het nietemin daarop aangedring om met Meiring kontak te maak oor die genoemde toerusting, waarop Joubert dit duidelik gestel het: “Vorder eers en los die baie uitstaande sake op, dan praat ons weer - sake soos die moord op Martin Armitage en die sabotasie van die Levubu kraglyn.”
Intussen word verneem dat navrae tot so ver as uit België en Nederland ontvang is oor die opspoorapparaat wat onlangs op ‘n voertuig van ‘n lid van die TLU SA gevind is.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
