

ADVERTISEMENT:

News Date: 16 December 2005
Die Makhado Munisipaliteit sal eersdaags ‘n hernieude kennisgewing publiseer waarin plaaslike sakeondernemings gevra word om te registreer as moontlike goedere- en diensteverskaffers aan die munisipaliteit.
Munisipale woordvoerder mnr. Peter Magwala het vandeesweek by navraag gesê dit is noodsaaklik om die databasis gereeld op te dateer. Die inligting wat aangevra word van sakeondernemings is noodsaaklik om aan te pas by die munisipaliteit se amptelike beleid ten opsigte van die bestuur van verskaffers. Die beleid, wat genoodsaak word deur nuwe wetgewing, tree in Januarie 2006 in werking. Bestaande leweransiers sal ook weer moet registreer.
Mnr. Magwala sê in die keuse van amptelike verskaffers sal ondernemings wat op die amptelike datalys verskyn, noodwendig voorkeur kry.
‘n Vasgestelde registrasiefooi, wat wissel van R100 tot R250, is betaalbaar vir elke kategorie goedere of dienste wat ‘n onderneming aanbied. Die uitnodingslys bevat ses verskillende kategorieë waarvoor ondernemings kan registreer.
Die registrasie-aansoek moet ook vergesel word van ‘n volledige profiel van die betrokke onderneming. Die profielbesonderhede wat verlang word, sluit in die eienaarskap, die basiese, hoof en sekondêre sakebedrywighede van die onderneming, ‘n geldige belastingvrystellingsertifikaat en ‘n gesertifiseerde afskrif van die onderneming se maatskappy registrasiesertifikaat.
Die aanvanklike versoek om registrasie van leweransiers het 12 uur op 9 Desember, 2005, as sluitingsdatum gehad.
Mnr. Magwala sê aangesien daar deurentyd talle ondernemings tot stand kom, sou dit nie billik wees om enige potensiële leweransier die geleentheid tot registrasie te ontsê nie. Daarom het die munisipaliteit besluit om aanstaande week ‘n hernieude uitnodiging te publiseer.
Gevra oor die registrasiefooi en die wisselende tariewe vir die verskillende kategorieë, het Magwala gesê dit is bloot administratiewe kostes wat wissel na gelang van die aard van die voorrade of dienste wat in die verskillende kategorieë aangebied word. Hy sê die heffing is niks nuuts nie. Voorheen moes alle ondernemings ‘n jaarlikse heffing aan die Vhembe Distriksmunisipaliteit betaal.
Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

ADVERTISEMENT:
