ADVERTISEMENT:

 

'n Bedekte wyse om SA te ontwapen?

 

News  Date: 16 December 2005

 

Die omstrede Suid-Afrikaanse Vuurwapenwet is daarop gemik om mense in Suid-Afrika op ‘n bedekte wyse te ontwapen. Met dié wet word wapeneienaars doelbewus om die bos gelei deur ‘n opsetlike proses van burokratiese teistering.

Hierdie verreikende stelling word gemaak deur die bekende wapenkundige, dr. Lucas Potgieter, in ‘n artikel in die jongste uitgawe van die tydskrif Landbou Weekblad en word uitdruklik beaam deur plaaslike wapeneienaars.

Dr. Potgieter sê die proses van burokratiese teistering is wêreldwyd goed bekend. Dit is wanneer ‘n regering besluit om doelwitte eerder te bereik met behulp van teistering deur middel van die uitvoerende gesag, omdat dit nie deur die wetgewende of regsprekende gesag bereik kan word nie. Om die meeste welslae te behaal moet die publiek met die belaglikste rompslomp denkbaar gebombardeer word. Dit gaan gepaard met “hostile on-sight inspections” om kwansuis te bepaal of mense voldoen aan die sinlose nuwe vereistes wat skielik opgeduik het. Opleidingsvereistes vir die skyn, skep die beste moontlikhede vir die burokrasie om mense met belaglike reëls en regulasies so te teister dat hulle uiteindelik hul vuurwapens weggee. Dié oneerlike politieke foefie dwing amptenare dikwels teen hul sin om in die oog van die publiek onbekwaam te lyk, terwyl hulle besig is om op allerlei wyses opsetlik die lewe vir wapeneienaars ondraaglik te maak. Dit sluit ook in dokumente wat gereeld wegraak, lang vertragings in besluitneming en ‘n onvermoë om ooreenkomste na te kom.

Die ontwerp van die omstrede taktiek word toegeskryf aan ene Paul Begala, ‘n raadgewer van oud-president Bill Clinton. Die konsep is deur die Clinton-administrasie gebruik om die publiek op ‘n bedekte wyse te ontwapen en wapenhandelaars te verminder, onder die voorwendsel dat hulle misdaad wou bestry.

“Selfs ‘n swaap weet dat jy nie misdaad kan bestry as jy wapens by wetsgehoorsame eienaars afneem terwyl die skurke hul rewolwers, pistole en AK47’s behou nie,” sê Dr. Potgieter.

Die resultaat was dat daar geen afname in misdaad was nie, maar die houers van federale vuurwapenpermitte het met 64% gedaal, nadat die owerheid die koste van sulke permitte met 700% verhoog het. Hy sê as al die verpligte verhogings bymekaargetel word, is die verhoging in Suid-Afrika meer as 1 100%. Hy sê die Suid-Afrikaanse regering sal waarskynlik daarin slaag om 85% van die wapen- en ammunisiehandelaars in die land hul deure te laat sluit.

Dr. Potgieter waarsku dat die Begala-resep ook doeltreffend vir verskeie ander onteieningsprosesse gebruik kan word.

 

Written by

Frans van der Merwe

Frans van der Merwe is a freelance journalist with more than 40 years experience in the newspaper industry. Apart from newspaper reporting, he was also involved with radio news, news reading, training and marketing. He has been living and working in Louis Trichardt since 1991.

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines