ADVERTISEMENT:

 

Charlene Janse van Rensburg en Jean Fernhout by hul voertuig wat gekaap is, maar gou weer deur die polisie teruggevind is.

Jong paartjie oorleef kapingsdrama digby ouers se huis

 

News  Date: 23 December 2005

 

Ses verdagtes is aangekeer na ‘n gewaagde kapingsdrama waarin twee jong inwoners van die dorp, Jean Fernhout en sy vriendin, Charlene Janse van Rensburg, van hul voertuig beroof is.

Die voorval het verlede Donderdag (15de) omstreeks 21:15 op die hoek van Bauhinia- en Kameelstraat plaasgevind.

Jean en Charlene was op pad na sy ma toe, toe hulle ‘n Toyota Tazz op die straathoek in die donker gewaar het. Die twee het eers gedink dit is Charlene se broer se voertuig en het omgedraai om te hoor wat die probleem is.

Toe die voertuig uit die donkerte nader ry, het Jean en Charlene besef dit is nie Charlene se broer se voertuig nie. Die paartjie het die onbekende mans gewaar en Jean het besef daar is moeilikheid. Hy het verby die verdagtes se voertuig probeer jaag, maar hulle het voor hom ingejaag.

Vyf gewapende mans het uit die Tazz gespring, terwyl een verdagte agter die stuurwiel bly sit het. Hulle het met gerigte pistole op Jean en Charlene afgestorm. Een van die verdagtes het Jean gevra of hy ‘n wapen by hom het, waarna ‘n tweede vir Jean geklap het en hom beveel het om sy selfoon, geld en kos aan die kaper te oorhandig. Jean se selfoon was in daardie stadium in Charlene se handsak en hy het vir die kaper gesê dat hy niks by hom het nie.

Die kapers het toe ombeweeg na waar die geskokte Charlene gesit het. Sy is deursoek en van haar beursie en selfoon beroof. Te midde van die drama het Charlene skielik ‘n gaping gewaar en op die vlug geslaan. Kort hierna het die kapers met beide voertuie weggejaag, nadat Charlene se ouers heel toevallig op die toneel afgery gekom het.

Jean, Charlene en haar ouers het inderhaas die voorval by die plaaslike polisiestasie aanhangig gaan maak. Die polisie het op hulle beurt dadelik die voorval en inligting oor die gekaapte voertuig na die ander polisiestasies in die omgewing gesirkuleer.

Dit was nie lank nie voordat daar vasgestel is dat die verdagtes hulself in Madombidzha bevind. Die polisie het toegeslaan by die perseel waar daar begin is om die voertuig te stroop. Ses verdagtes is op die toneel aangekeer. Hulle het op Maandag, 19 Desember, in die plaaslike landdroshof verskyn en hul saak is uitgestel na 28 Desember. Die ouderdomme van die verdagtes wissel tussen 23 en 42 jaar.

Die Fernhoutgesin het na afloop van die traumatiese gebeure hul dank uitgespreek teenoor die polisie vir hul flinke optrede.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines