ADVERTISEMENT:

 

Traagheid laat humeure opvlam by grenspos

 

News  Date: 23 December 2005

 

Die erge verkeersopeenhopings by die Beitbrug-grenspos tussen Suid-Afrika en Zimbabwe duur steeds voort.

Addisionele personeel is aangestel om te probeer om die probleem op te los, maar dit het feitlik geen verligting gebring nie. Die chaos word grootliks veroorsaak deur die verhoogde verkeersvloei wat by die grenspos bottelnek, vanweë die feit dat die beamptes net eenvoudig nie die volumes kan hanteer nie.

Volgens een motoris wat die frustrasie van verkeersopeenhopings en vertragings moes deurmaak, is die situasie belaglik. Die opinie is uitgespreek dat al was daar meer helpers, die infrastruktuur by die grenspos net nie voldoende is nie.

‘n Verdere probleem wat humeure verder laat opvlam is die feit dat talle bestuurders doodeenvoudig voor in die lang ry voertuie indruk. Kort-kort breek onderonsies tussen reisigers uit. Daar blyk weinig beheer te wees oor die situasie.

Volgens een doeanebeampte by die grenspos keer daar daagliks sowat 10 000 Zimbabwiërs vanuit Suid-Afrika na hul tuisland terug deur die grenspos. Dit is ‘n skokkende bewys van hoeveel Zimbabwiërs wel in die land werksaam is.

Verskeie pogings en telefoonoproepe om amptelike kommentaar te kry oor die situasie by die grenspos was onsuksesvol. Ten spyte van nasionale nuusberigte dat die situasie onder beheer gebring is, was daar teen druktyd nog geen merkbare verandering in die opeenhoping nie.

 

Written by

Riaan de Swardt

 

ADVERTISEMENT:

 

Recent Headlines